’n Duitse uitruilstudent het Sondag 19 Februarie tragies in ’n botsing gesterf terwyl sy en haar medestudente ’n Sondagsuitstappie geniet het.
Drie Duitse studente wat in Suid-Afrika is vir vrywilligerwerk wat plaaslike minderbevoorregte kinders onder die vaandel van die Paternoster Project betrek, het glo Sondag besluit om ander Weskusdorpe in die omgewing te gaan verken.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het een van die studente (22) in die motor haar lewe op die R399-pad verloor, toe die geselskap vanaf Piketberg teruggekeer en onderweg na Velddrif was. Die bestuurder het glo beheer oor die voertuig verloor en dit het die pad verlaat en gerol.
Helfrich sê ’n saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.
Die direksie van die Paternoster Project het Dinsdagoggend in ’n verklaring aan Weslander die sterfte bevestig en verduidelik die ander twee studente wat in die motor saam met haar was, is vir ligte beserings behandel.
Die direkteure het in die verklaring hul innige meegevoel aan die familie en vriende van die oorledene uitgespreek. “Ons innige meegevoel gaan aan die familie en vriende van die oorledene.”
Weens die sensitiewe aard van die voorval, het die Paternoster Project besluit om die gestorwe student se naam te weerhou tot haar familie later vandeesweek in Suid-Afrika aankom.
Die jong vrou wat Sondag in die botsing gesterf het, is die tweede Duitse student verbonde aan die Paternoster Project wat in ’n botsing aan die Weskus sterf.
Weslander het in Augustus 2018 berig oor Cathy Kwiatkowski (25) wat ook oor ’n naweek op die Paternoster-pad gesterf het, terwyl sy en ’n bekende plaaslike inwoner, André Kleynhans junior (36), na ’n winkel in Vredenburg toe gery het om ’n paar noodsaaklikhede te koop. Die restaurant Cathy’s Kitchen in Paternoster is na haar vernoem.




