Die Elandsbaai-polisie en beamptes van die departement van omgewing, bosbou en visserye wys die groot kreefstertvonds wat hulle Dinsdag 6 Desember in Elandsbaai ontdek het.


Onthou om jou kreefpermit te koop en by die permitvoorwaardes te hou as jy beplan om dié vakansie kreef te duik of hierdie bedreigde Weskus-lekkerny met ’n ringnet van die rotse af te vang.

Kreef is eie aan die Weskus, en talle besoekers wil graag hulle eie kreef vang om ’n outentieke Weskus-ervaring tydens hulle vakansie te beleef.

Onthou egter die vang van kreef of selfs die besit van kreef sonder ’n permit is ’n strafregtelike oortreding.

Die Elandsbaai-polisie en lede van die departement van omgewing, bosbou en visserye het Dinsdag 6 Desember ’n bekende plaaslike kreefsmokkelaar by ’n aanlêsteier opgemerk, waar hy heel waarskynlik weer met onwettige visvangpraktyke besig was.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het die verdagte die polisie gesien, waarna hy summier die swartsak wat hy by hom gehad het, oor sy roeiboot gegooi en gevlug het.

Helfrich sê die polisie en die visinspekteurs het gaan ondersoek instel en 2 558 kreefsterte by die aanlêsteier gevind. Die polisie is steeds op soek na die voortvlugtende verdagte.

Helfrich herinner hiermee alle plaaslike inwoners of besoekers aan die Weskus oor die feestyd dat dit ’n misdaad is om kreef sonder ’n permit te vang. Kreefpermitte vir ontspanningsdoeleindes is by die poskantoor en die departement van omgewing, bosbou en visserye se kantoor beskikbaar. Onthou egter ’n kreefpermit sluit nie hengel en die oes van mossels van die rotse af in nie – hiervoor moet ’n bykomende permit uitgeneem word.

Weskuskreef is op die rooilys van die Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekos-inisiatief (Sassi) se webtuiste. Die skulpvisbevolking het oor die afgelope drie dekades noemenswaardig afgeneem. Volgens Sassi is Weskuskreef (Jasus lalandii) stadiggroeiende en langlewende skaaldiere, wat hulle uiters vatbaar vir oorbevissing maak. Die mees onlangse bestekopname dui daarop dat die kreefbevoking erg uitgeput is. Slegs 2% van die hoeveelheid kreef is oor in vergelyking met die oorspronklike voor-ontginningsbevolking.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article