‘n Inwoner van Hopefield het sy kommer uitgespreek oor aktiwiteite wat by die oop stuk grond en rusbankies in
Oakstraat, Hopefield, plaasvind.
Volgens die inwoner is mense geneig om alkohol te drink terwyl hulle daar sit en hul gemors agter laat.
Die inwoner het die klagte aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) deurgegee om ondersoek in te stel, maar meen hulle het tot dusver geen vordering gemaak nie.
Die inwoner het ook opgemerk dat daar geen tekens is wat aandui dat daar nie rommel gestrooi of alkohol in die oop ruimte gebruik mag word nie.
Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die SBM, het by navraag gesê die
wetstoepassingsdepartement sal die klagte ondersoek en beoog om sy sigbaarheid in en om Hopefield te verhoog.
“Verder, wat die kennisgewingborde betref, is die munisipaliteit tans besig met die verkrygingsproses van die verwante borde. Die spesifikasies van die borde is gefinaliseer en insette van
wetstoepassing is ook in ag geneem. Sodra die kennisgewingborde ontvang word, beplan die betrokke departement om dit teen einde April op te rig.”



