Drie van die Weskus se jong rugbyspelers is die eerste spelers wat deel van die Internasionale Rugby-instituut (IRI) se nuwe akademie sal wees.
Die IRI-akademie se tuiste sal in Saldanha by die plaaslike Transnet-stadion wees. Hier sal Danie de Villiers, die direkteur van rugby, en die span van IRI ’n 10 maande lange program vir jong spelers aanbied.
“Die akademie is daar om die leemte te vul vir spelers wat nie vir ’n universiteit speel nie, maar na die volgende vlak van professionele rugby wil gaan,” het De Villiers verduidelik.
Hy sê hoewel die akademie in Saldanha is, is dit ’n program vir alle plaaslike spelers en die hoop is om later ook vrouerugbyspelers met hul sportloopbaan te help.
Benewens die sport sal spelers ook die geleentheid kry om ’n vaardigheid te leer indien professionele rugby nie vir hulle is nie.
Twee plaaslike ondernemings – Oxigym en Mck Engineering Projects – is deel van die program. Spelers sal praktiese vaardighede by dié ondernemings as deel van die IRI-program opdoen.
Dirk Hough van Oxigym sê dit is belangrik vir spelers om “iets te hê waarop hulle kan terugval”.
Marlin Petersen (19), Jihaad Collins (18) en Mitchel Julies (20) sal in Februarie van die eerste spelers wees wat by die akademie aansluit. Dié drie – van die Hoërskool Diazville – sê hulle is opgewonde oor die uitdaging.
“Ons is dankbaar vir hierdie geleentheid en ek weet ons gaan ’n sukses van die program maak,” sê Collins.
Die jong spelers bedank hul skool-afrigters en ondersteuners wat die pad na die akademie met hulle gestap het.
Volgens die Diazville-afrigter Ivan Dwashu is die akademie ’n droom wat bewaarheid is met verwysings na De Villiers se deurlopende steun aan plaaslike spelers.
André Truter, die Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester, het die jong manne aangespoor om die beste van die program te maak en uiteindelik in die gemeenskap terug te ploeg.
“Daar was sprake van ’n sport-akademie hier by die stadion en ons beplan om ’n 80-meter-tartan-strook aan te bring. Dit vorm alles deel van die geleenthede wat aan Weskus-atlete gebied kan word,” sê Bertram Vraagom van die Saldanha-rugbyklub. Aangesien die akademie-spelers as deel van hul program vir plaaslike klubs sal speel, bied dit ’n groep talentvolle spelers wat klubspanne sal verstrek meen hy.
Ondernemings word genooi om met die akademie in verbinding te tree vir borgskap, vennootskap en samewerking. Enige belangstellendes kan Hough by 071 151 8488 kontak.




