Drie vermeende perlemoenstropers is in hegtenis geneem in ’n gesamentlike teenmisdaadklopjag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) verlede week.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die drie vermeende perlemoensmokkelaars Woensdagoggend 19 Februarie naby die Sea Harvest-visfabriek in die Saldanhabaai-hawe in hegtenis geneem.
Sowat 276 perlemoene en duiktoerusting is by Silindokuhle Bleki (28), Zubenathi Ntuku (37) en Akhona Gwele (24) gekry.
Hulle is almal Zimbabwiese burgers en het dieselfde dag nog in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Die besluit om sáám ’n veldtog teen perlemoenstropers te begin is drieledig: Eerstens om die land se marienehulpbronne te beskerm, tweedens om onwettige handel in perlemoen te voorkom en derdens om perlemoenstropingsindikate wat oral in die Weskus bedrywig is, te ontwrig, het Helfrich gesê.
Sy het benadruk dat hierdie suksesvolle optrede teen perlemoensmokkelary beoog om die boodskap aan perlemoenstropers te stuur dat wetstoepassingsagentskappe nie verder die uitbuiting van die Weskus se marienehulpbronne gaan duld nie.




