Brandweermanne blus die vlamme ná die ongeluk by die verkeersirkel net buite Saldanha.


Drie mans is dood en drie beseer in twee afsonderlike motorongelukke die afgelope naweek in die Weskus.

In ’n opspraakwekkende ongeluk by die Saldanha-verkeersirkel Sondag 18 Februarie het die bestuurder van ’n Volkswagen Polo beheer oor die voertuig verloor en teen die eiland in die middel van die sirkel gebots. Hy was van Saldanha in die rigting van Vredenburg onderweg.

Die voertuig het weens die impak van die botsing op sy dak op die eiland beland en vermoedelik onmiddellik aan die brand geslaan.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, sê polisiebeamptes het hulle omstreeks 05:30 na die ongelukstoneel gehaas en kon betyds die agterste drie passasiers uit die brandende voertuig red.

Twee passasiers is vir ligte beserings behandel, maar die derde een is met veelvuldige brandwonde na die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem en sterk steeds hier aan.

Die name van die twee oorledenes en die drie beseerdes in dié ongeluk is teen druktyd nog nie bekendgemaak nie.

’n Video en foto’s van die brandende wrak is wyd op sosiale media gedeel, ongeag die feit dat die bestuurder en die voorste passasier besig was om in die voertuig dood te brand.

Helfrich het haar misnoeë met die rondstuur van dié video en foto’s te kenne gegee. Sy doen weer eens ’n beroep op die publiek om aan die naasbestaandes van oorledenes te dink voordat hulle dit wyd en syd deel.

. In nóg ’n ongeluk het Benjamin Piper (46) van Langebaan ook Sondag 18 Februarie om 19:10 vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor. Helfrich sê Piper was op die N7 naby die Drieheuwels-plaas toe sy voertuig die pad verlaat en gerol het. “Hy het in die oop veld aan sy beserings beswyk.”

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article