Drie mense het sedert Saterdag 25 Maart in twee onderskeie botsings op die Weskus se paaie gesterf.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, was twee vroue van Kathu Maandag (27 Maart) na ’n begrafnis in die Weskus onderweg toe hul voertuig om 16:40 teen twee ander voertuie – ’n minibus en ’n sedan – op die N7 in die omgewing van Citrusdal gebots het. Hulle het op die toneel aan hul beserings beswyk.
In ’n ander voorval, wat Saterdag om 11:10 gebeur het, is ’n man (36) in ’n botsing op die N7 by Piketberg dood. Drie voertuie was ook in hierdie botsing betrokke.
Vier ander mense het mediese behandeling ontvang. In albei gevalle word sake van strafbare manslag ondersoek.



