Drie voorvalle in een week!
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Vredenburg die afgelope week drie gewelddadige huisrooftogte beleef.
In een van die voorvalle, wat verlede Woensdagoggend (11 Januarie) plaasgevind het, is ’n ouer vrou (72) en haar gestremde suster oorval deur twee mans wat by hul huis in die dorp ingebreek het.
“Die vrou is wakker gemaak en sy het twee mans in haar kamer gesien,” het Helfrich verduidelik.
Die verdagtes het die vrou na bewering met ’n mes gedreig en met ’n gholfstok aangerand terwyl hulle haar huissleutels geëis het. Luidens die slagoffer se polisieverklaring het die mans haar weer aangerand toe sy geweier het om die sleutels te oorhandig. Hulle het glo ook die bejaarde gestremde suster van die slagoffer aangerand.
“Die verdagtes het ’n swart sak geneem en die slagoffers se selfone, juweliersware, geld, handsakke en die alarm-afstandbeheerder daarin gepak en deur ’n venster, wat oopgedwing is, gevlug,” het Helfrich gesê.
Ondersoekbeamptes van die Vredenburg-speurdiens het ná die rooftog voortgegaan om die gebied te fynkam en het later ’n man (38) met ’n swart sak en die mes wat in die rooftog gebruik is, saam met die slagoffer se besittings gevind.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sal in die Vredenburg-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is. Die soektog na die tweede verdagte duur voort.
In ’n tweede voorval verlede Woensdag (11 Januarie), het ’n vrou (76) van Meeustraat in Vredenburg in die vroeë oggendure wakker geword toe die huisalarm afgegaan het. Sy het uit haar bed opgestaan en ’n man in die gang gesien, wat op haar afgepyl het. Haar man het ook wakker geword en die verdagte en haar man het gestoei. Haar bejaarde man is in die voorval beseer. Die rower het die vrou se selfoon uit haar hande geruk en deur ’n venster gevlug.
Donderdag 12 Januarie is ’n vrou (32) van Louwville om 01:41 deur vyf mans in haar huis oorval. Die rowers het met ’n televisieskerm en selfone op die vlug geslaan.
“Buiten diefwering, veiligheidshekke en ’n werkende alarmstelsel, is die installering van videokameras ’n bykomende veiligheidsmaatreël wat inwoners behoort te oorweeg,” het Helfrich gesê.
“Videobeeldmateriaal is van noodsaaklike belang wanneer dit by ernstige strafregtelike sake kom en stel die polisie in staat om die oortreders vas te trek.”


