Net ’n uur nadat die nuwe maand aangebreek het, het die polisie drie mans vir die besit van ’n onwettige vuurwapen vasgetrek.
Volgens sers. Johnatan Filander, woordvoerder van Darling-polisie, was die betrokke 9 mm-vuurwapen agter op ’n Mazda Rustler-bakkie versteek.
Die Darling-polisie, Swartland se munisipale wetstoepassers, die Darling-plaaswag, Darling-buurtwag, departement van visserye, die plaaslike honde-eenheid en die provinsiale verkeersdiens, het ’n gesamentlike padblokkade op die R27 (Weskuspad) beman toe die Mazda-bakkie Vrydag 1 April in die donker oggendure voorgekeer is.
Die drie insittendes was onderweg van Atlantis na Velddrif toe hulle deur polisiebeamptes gevra is om stil te hou.
Die voertuig is deursoek, waarna die vuurwapen asook sewe sakkies tik en ’n halwe Mandrax-tablet ontdek is.
Die drie mans in die bakkie, almal oorspronklik van Atlantis, is onderskeidelik 30, 36 en 37 jaar oud.
Hulle is deur sers. Filander en sers. Dieter de Hoop op aanklagte van die besit van ’n onwettige vuurwapen en dwelms in hegtenis geneem.
Die mans het Maandag (4 April) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Weslander het verlede week berig oor ’n ander vuurwapen waarop die polisie in ’n jong vrou van Darling se klerekas afgekom het. Hierdie wapen word vermoedelik verbind met drie ander plaaslike sake waarin skote op mense geskiet is.
Die nuutste wapen-vonds sal ook ondersoek word om te bepaal of dit moontlik aan ander strafregtelike sake verbind kan word.
Volgens Filander beskou die polisie dit altyd as ’n groot sukses wanneer op ’n onwettige vuurwapen beslag gelê word, aangesien dit een minder gevaarlike wapen in die verkeerde hande is.





