Drie vroue van die Weskus het die afgelope naweek in drie afsonderlike botsings op die distrik se paaie gesterf.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is ’n vrou (25) Vrydagoggend (7 Oktober) in Vredendal dood nadat die voertuig waarin sy gery het, ’n paar keer gerol en daarna teen ’n paal gebots het. Die botsing het om 06:30 plaasgevind.

Saterdag (8 Oktober) omstreeks 01:50 het ’n ander vrou (35) van Noordhoek in Laaiplek haar lewe in die donker oggendure verloor toe twee voertuie in Kerkstraat, Velddrif, gebots het. Helfrich sê die botsing het gebeur toe die een voertuig die ander teen ’n hoë spoed verbygesteek het. Die bestuurder wat verbygesteek het, het glo beheer oor die voertuig verloor en teen die motor waarin die oorledene gery het, gebots. Die passasiers wat saam met die oorlede vrou in die motor was, is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

Sondag (9 Oktober) is nog ’n vrou (26) van Piketberg omstreeks 19:45 in ’n botsing op die Piketberg-Velddrifpad dood. “Die presiese omstandighede wat tot die botsing gelei het, word nog ondersoek,” het Helfrich verduidelik.

Die plaaslike polisie ondersoek klagtes van strafbare manslag in al drie gevalle.

Des Paton, die streekdirekteur van die provinsiale departement van verkeer vir die Weskus en Kaapse Metro, doen ’n beroep op motoriste om altyd ’n veilige volgafstand te handhaaf en in mistige toestande spoed te verminder en ekstra waaksaam te wees.

Paton sê ook padgebruikers wat ander se lewe in gevaar stel, gaan “bars” as hulle gevang word.

Hy waarsku voornemende spoedvrate sowel as dronk-, roekelose en aggressiewe bestuurders dat verkeersbeamptes instruksies ontvang het om geen geduld (“zero toleransie”) met hierdie soort gedrag aan die dag te lê nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article