’n Motorbestuurder en nog twee mense is beseer toe hulle Sondag (24 September) laatmiddag die kruising tussen die Weskuspad (R27) en die R45 oorgesteek en voor ’n aankomende vragmotor beland het.
Die vragmotorbestuurder, wat van Langebaan se kant af oor die bult aangekom het, het volgens omstanders probeer om vir die rooi Volkswagen Golf uit te swaai, maar kon dit nie betyds regkry nie. Die vragmotor het in die motor vasgery en dit ’n hele ent van die pad af die veld in gesleep.
Volgens Elowayne Gouws, ’n direkteur van West Coast Medical Rescue, is hy en sy span omstreeks 16:40 na die ongelukstoneel ontbied. Hulle het drie beseerdes met hul aankoms gekry.
Metro EMS-reddingsdienste moes die beseerde bestuurder met spesiale toerusting uit die motorwrak sny.
Gouws het gesê die beseerde bestuurder en sy twee passasiers is na die Vredenburg-staatshospitaal geneem. Teen druktyd was hulle nog besig om in die hospitaal aan te sterk.
Motoriste word weer gewaarsku om uiters versigtig te wees wanneer hulle hierdie kruising oorsteek. Mense word ook gemaan om, voordat hulle oor die kruising beweeg, eers seker te maak geen voertuie kom oor die blinde hoogte van Langebaan se kant af aan nie.





