Drie gewapende rowers het ’n egpaar verlede week in hul huis in Fairwaystraat, Langebaan, in die nag oorval en beroof.

Die 61-jarige huiseienaar het omstreeks 01:15 wakker geword van sy vrou se gegil en die drie aanvallers met klapmusse en handskoene aan in hul slaapkamer sien staan.

Die rowers het, volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, messe gehad en die egpaar daarmee gedreig.

Die polisie vermoed die rowers is vooraf ingelig oor die kluis in die huis, want hulle het die egpaar se hande agter die rug vasgebind en aangedring op geld en die einste kluis se sleutels.

Die eienaar het ontken dat hulle ’n kluis in die huis het.

Een van die rowers het by die slagoffers gebly terwyl die ander twee die huis deursoek het.

Die verdagtes het die kluis se sleutel gekry en ’n .38 Special-rewolwer en juweliersware daaruit gesteel. Hulle het ook twee skootrekenaars en twee I-phone-selfone gebuit.

Een van die verdagtes het eers ’n oproep gemaak, waarop die eienaar en sy vrou na die badkamer geneem is en hul voete ook vasgebind is. Die rowers het vermoedelik te voet gevlug nadat hulle die egpaar in die badkamer toegesluit het.

Die Langebaan-polisie ondersoek ’n klagte van huisroof.

Die polisie het mettertyd besef die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur ’n klein venster in die onderste gedeelte van die huis uit te haal.

Die egpaar is nie beseer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article