Die Volkswagen Polo waarin die kreef gekry is.Foto: SAPD


Drie Baaienaars is Vrydag (24 Januarie) in hegtenis geneem net nadat hulle na bewering Saldanha binnegery het met onwettige kreef ter waarde van bykans R170 000.

Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskusdistrik, het gesê Giovanni Don (46), Lorenzo Bowman (37) en Ronanda Forbes (26) het Maandag (27 Januarie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Beamptes van die departement van vissery en bosbou het inligting ontvang oor ’n blou Volkswagen Polo wat onwettige kreef vervoer.

Die motor is by die Saldanha-sportterrein gesien en die beamptes het die voertuig deursoek, wat tot die ontdekking van 1 689 kreefsterte met ’n straatwaarde van R168 900 en 300 heel krewe ter waarde van R30 000 gelei het.

Die polisie het op die kreef beslag gelê.

Genl.-Maj. Sizakhele William Dyantyi, die Weskus-distrikskommissaris, het die polisielede met hul suksesvolle bekamping van misdaad in die distrik gelukgewens.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article