Daniline Koopman (links) en Emma Guthrie vertolk die rolle van Maria en Maria Magdalena.


Crossroad het Vrydag 31 Maart by Curro Langebaan se skoolsaal ’n Paasfees-produksie op die planke gebring.

Mense van oor die Weskus heen het die geleentheid gehad om die storie van Jesus se lewe, sy dood en sy opstanding op ’n kreatiewe manier te beleef – deur toneelspel, sang en dans. Voor ’n propvol saal het die akteurs hul harte uitgespeel.

Die verhaal handel oor ’n man, Stephen, en sy reis om Jesus te ontmoet. Hy het Jesus gesien as ’n jong seun en was oortuig dat daar iets meer rondom Jesus se lewe is. In sy soeke na Jesus het hy besef dat dit hom iets sal kos om Jesus te volg. Aanvanklik was hy onseker wat dit sou wees, buiten sy tyd weg van sy gesin en later selfs van sy plek en rol as seun in sy familie.

Die pad was nie maklik nie, maar dit het hom gelei na ’n kruis. ’n Kruis in die pad waarby die skrywer elkeen in die gehoor laat staan het, ’n kruis ten opsigte van ’n keuse wat hy – en die gehoor – moet maak. Stephen moes die keuse maak of hy sy lewe, soos wat hy dit geken het tot op hede, sal neerlê en vir Jesus sal volg. Dit het elkeen ook gebring na die eintlike kruis-dood van Christus, waar Stephen ook uiteindelik vir Jesus kon ontmoet. Stephen se keuse om Jesus te volg het sy oë oopgemaak vir al die wonders wat Jesus in sy lewe op aarde verrig het en mense wat Hy gesond gemaak het. Hy het dus besef dat Jesus se lewe, wat Hy neergelê het vir elkeen van ons, tot verlossing lei en dat om jou lewe vir Jesus te gee dus tot totale vryheid in Jesus sal lei.

Die produksie, geskryf deur en onder regie van die Langebaan-inwoner Marlé Oosthuizen, was aanvanklik beplan vir Maart 2020, maar net twee weke voor die produksie sou plaasvind, het die Covid-19-grendeltyd ’n stokkie daarvoor gesteek.

Die akteurs het in 2023 besef dat dit hulle iets sou kos om Jesus se storie te vertel. Oorspronklik was dit slegs die opoffering om op ’n Sondagmiddag te oefen, maar gou het elkeen besef dat dit ook geloof kos om te glo dat Jesus die perfekte tyd sal skep wanneer die produksie die lig sal sien. Dit was ’n geloofspad wat elkeen moes stap. Hulle het besef dat dit nooit in hul eie hande was nie, maar in Jesus s’n.

Oosthuizen sê wat die toneelgroep so uniek maak, is dat nie een van die spelers aanvanklik professionele akteurs was nie.

“Die groep is saamgestel uit verskeie mense vanuit plaaslike kerke wat hulself beskikbaar gestel het om die storie van Jesus te verkondig. Aangesien almal deur die week moes werk, is Sondagmiddae aan oefening gewy.

“Almal het hul talente gebruik om kostuums te maak, dekor bymekaar te maak en die stel te ontwerp en te bou. Spelers het hulself oorgegee aan die storie en dit het gelei tot uitsonderlike toneelspel.”

Oosthuizen sê hulle glo dat God hierdie vertoning, wat sorg vir trane, maar ook vir skaterlag-oomblikke, vir Sy glorie en die verkondiging van Sy naam sal gebruik en dat dit binnekort weer op die Weskus se planke sal verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article