Familie, vriende en inwoners van Saldanha treur ná die dood van Ivan Luzmore, wat Woensdag (2 Februarie) in ’n brand omgekom het.
Brandweerbeamptes van die Saldanhabaai-munisipaliteit het Woensdagoggend gespook om die vlamme by die huis in Flamingostraat, Saldanha, onder beheer te kry.
Nooddienste het verlede week aan Weslander bevestig ’n man het in die voorval omgekom.
Teen Woensdagmiddag het brandweerbeamptes die brand onder beheer gehad, hoewel hulle steeds gewerk het om al die vlamme te blus.
André Truter, die burgemeester en self ’n Saldanhabaaier, het sy skok en hartseer oor die voorval uitgespreek.
“Oom Ivan Luzmore woon al baie jare in Saldanha en het ’n positiewe impak in die gemeenskap gemaak. Om hom op so tragiese manier te verloor, was ’n groot skok vir ons almal. Ons innige meegevoel met sy vrou Helonet, familie en vriende. Ons bid dat die Here hulle sal vertroos in hierdie moeilike tyd,” het Truter gesê.
“Oom Ivan was altyd vriendelik en vol grappies as ’n mens ’n draai maak,” het een Saldanhabaaier onthou. Inwoners het hul medelye en herinneringe van Luzmore op sosiale media gedeel.
Truter het ook die werk van die munisipaliteit se brandbestryders geprys. Die brand is tot die Luzmore-woning beperk en Truter het inwoners van die buurt, wat ingespring het om meubels en ander besittings uit die brandende huis te help kry, geprys.
Die burgemeester meen ten spyte van die hartseer en tragiese aard van die dag was dit besonders om die omgee van die gemeenskap te sien.. Weslander het na die familie van Luzmore uitgereik, maar hulle wou in die stadium nie kommentaar lewer nie.





