Wit, bruin en swart, werkloses, werkers, raadslede en uitvoerende raadslede, DA, ANC en GOOD het Maandag 14 Februarie ’n verenigde front gevorm toe inwoners van Agterbaai by die Vredenburg-landdroshof vreedsaam betoog het teen borgtog vir die verdagte wat aangekla word van die aanranding en verkragting van sy vriendin (23).
Die voorval, wat Saterdagnag 5 Februarie in Steenberg’s Cove gebeur het, het die gemeenskap geruk, maar ook verenig. Volgens die slagoffer was sy en die verdagte die heeldag saam.
“Hy het my gereeld beskuldig en wou ook my vriende kies. Ek het hom gesê ek wil nie meer in die verhouding wees,” vertel sy.
“Hy het na die nabygeleë berg met my gery waar hy my aangerand en ook sy hande in my onderlyf gedruk het.”
Sy vertel ook dat hy gedreig het om haar iets aan te doen sou sy dit waag om hom te los.
“Hy het gedreig om oor my te ry nadat hy my in die pad rondgesleep het. Hy het na die bakkie geloop en ingeklim en dit was net my wilskrag wat my gered het,” vertel sy emosioneel.
“Ek het met die bietjie krag oor in my liggaam uit die pad gekom en in ’n sloot geval waar lede van die gemeenskap my gekry het.”
Volgens Tyrone Williams, gemeenskapsleier en proporsionele raadslid van GOOD vir die streek, het lede van die gemeenskap onraad vermoed toe hulle skreeuende bande gehoor en ondersoek ingestel het. Dit is toe wat hulle die slagoffer in ’n sloot aangetref het.
André Truter, uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, het van voor gelei en het ook inwoners kort ná die voorval op ’n gemeenskapsvergadering toegespreek.
Hy het die gemeenskap uit die staanspoor ondersteun. Truter is ook vergesel deur die Speaker, onderburgemeester en ander raadslede.
Truter het by die oorhandiging van ’n petisie aan Jacques van Zyl, senior staatsaanklaer, gesê: “Die gemeenskap sal nie toelaat dat daar met ons moeders, susters, eggenote of dogters gemors word nie, hulle is vir ons kosbaar en na aan die hart. Ons sal binne die bepalings van die wet alles in ons vermoë doen om ons vroue en kinders te beskerm,” het Truter gewaarsku.
“Ek doen ’n ernstige beroep op elkeen in ons gemeenskap om nouer saam te staan as ooit en as ’n verenigde front hierdie monster in ons gemeenskap in die oë te kyk en te verslaan,” het die burgemeester optoggangers gevra.
Van Zyl het die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning en het betogers verseker dat hul petisie beslis deur die staat gebruik gaan word.
Die saak is uitgestel tot 22 Februarie en die verdagte word aangehou.




