Wyle Greagan Jack Foto:


Charlene Jack het nooit gedink sy sou haar kind op so ’n jong ouderdom aan die dood afstaan nie.

Haar seun, Greagan Jack, ’n leerder aan die St. Andrew’s Primêre Skool in White City, Saldanha, het Maandag 16 Oktober sy laaste asem ’n dag ná sy 11de verjaarsdag uitgeblaas.

Charlene vertel dat diabetes op tweejarige ouderdom by Greagan gediagnoseer is.

Greagan het Vrydag (13 Oktober) gekla van maagseer en pyn nadat sy suikervlak gestyg het. Dus is hy na die Vredenburg- provinsiale hospitaal toe geneem. “Hy het ’n kopseer begin ontwikkel en in ’n koma geglip, omdat daar swelling op die brein was,” vertel Charlene.

Die dokters het Charlene meegedeel dat haar seun, wat aan masjiene gekoppel was, breindood is.

“Dit is ’n baie hartseer tyd vir my asook vir die hele skool en ons gemeenskap. Greagan was ’n wonderlike kind en het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad. Mense het hom ‘Smiley’ genoem,” het ’n hartseer Charlene gesê.

Volgens St. Andrew’s Primêr se skoolhoof, Ivan Talmarkes, het Greagan sy skoolloopbaan in 2019 by St. Andrew’s Primêr begin.

Hy beskryf Greagan as ’n baie intelligente seun wat soveel ambisie en visie vir die lewe gehad het.

“Hy was ’n uitstekende leerder en het op alle akademiese gebiede goed presteer. Hy het elke jaar as een van die toppresteerders gekwalifiseer en het soveel goeie leierseienskappe getoon. Hy sou altyd sterk menings gee tydens klasbesprekings en kon die mooiste, beskrywende opstelle met soveel passie en kreatiwiteit skryf.”

Volgens Talmarkes was Greagan dol oor sokker en videospeletjies en versot op sy speelgoed-karretjies.

“Hy het van teken en sing gehou en hy wou altyd ’n beat bysit. Hy wou nog so graag rugby speel, maar omdat hy ’n diabeet was, was ons maar bang hy kry seer.”

Die seun was gewild onder sy maats en het ’n spesiale band met elkeen gehad.

Talmarkes sê Greagan het nooit geskroom om te help wanneer sy maats met hul skoolwerk sukkel nie en het ’n positiewe invloed op hulle gehad.

“Greagan het sy siekte baie dapper en taktvol hanteer en het nie toegelaat dat dit hom keer om voluit te leef nie.

“Sy afwesigheid by St. Andrew’s Primêr laat ’n groot leemte en hy sal gewis gemis word.”

Greagan se begrafnis vind Sondag 22 Oktober om 10:00 by die Seventh Day Adventist-kerk in Saldanha plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article