En so spring die nuwe jaar toe weg met die Alle Aandele-indeks wat rekordhoogtepunte bereik, die rand wat rondom R17 per Amerikaanse dollar verhandel en langtermyn-effektekoerse wat goed versterk – alles teen die agtergrond van ’n dreigende Amerikaanse resessie en wêreldwye inflasie, wat monetêre owerhede noop om rentekoerse te verhoog.

Plaaslik is ons uitgelewer aan onder meer die genade van Eskom, wat volgens beriggewing in 2022 ’n impak van nagenoeg R500 miljard op ons ekonomie gehad het, en die vooruitsigte vir 2023 lyk nie beter nie.

Oor die beweging van finansiële markte het ons nie beheer nie; ook nie of Poetin die knoppie gaan druk en of inflasie in Amerika teen die einde van 2023 weer 2% gaan wees nie. Ons het wel beheer oor ons finansiële gesondheid.

Die gemiddelde groei van risikobates was die afgelope vyf tot sewe jaar nie in ooreenstemming met verwagtinge nie. Veral die ouer generasie, wat reeds van die vrugte van hul kapitaal leef, kry waarskynlik swaar, want min portefeuljes het hul langtermyn-groeidoelwitte gehaal. Spaarprogramme het as gevolg van onderprestasie ook skipbreuk gely. Stygende lewenskoste maak dit moeilik om te volhard met bydraes tot byvoorbeeld aftreeprodukte.

As jy voel of jou finansiële beplanning verkoue het, is die beste medisyne dalk om reeds vroeg in die nuwe jaar die dokter te besoek. Hierdie verkoue is ongelukkig nie een wat gaan verdwyn as jy dit ignoreer nie. Neem beheer oor dit wat jy kan beheer.. As jy afgetree is en inkomste uit ’n lewende annuïteit ontvang, behoort jy weer ’n ontleding van langtermyn-kapitaalvloei te doen. Die aannames van ’n paar jaar gelede en die waardes waarop jy nou moes wees, stem dalk nie ooreen nie. Pas dit aan – veral as jou onttrekkingskoers baie gestyg het.. Hervat spaarprogramme so spoedig moontlik indien jy dit moes kanselleer, of maak ten minste seker wat die impak van laer opbrengste of verlaagde bydraes op jou langtermyn-doelwitte kan wees.. Maak seker jy benut al die moontlike belastingvergunnings, byvoorbeeld – indien jy buite gemeenskap van goedere getroud is, maak seker beide gades kry die rentevrystelling. Het jy ’n belastingvrye beleggingsplan? Benut jy die volle voorbelaste besparingsbydrae van 27,5% tot aftreeplanne? . Gebruik die ervaring van die laaste klompie jare om uit jou foute te leer. Was jou portefeulje genoeg gediversifiseer? Indien nie, stel dit nou reg. . Moes jy groeibates op ongemaklike tye in kontant omsit omdat jy nie ’n noodfonds gehad het nie? Stel dit so gou as moontlik reg.. Maak seker jou testament is op datum. Het jy begunstigdes op jou aftreeprodukte en sekondêre begunstigdes op jou lewende annuïteite benoem?

Alhoewel uitkomste nooit so sleg of goed is soos jy verwag nie, is dit raadsaam om te doen soos die storieboekheld Jack Reacher sê: “Beplan vir die ergste en hoop vir die beste.”. Jac van der Spuy is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by PSG Wealth. Kontak hom gerus by jac@psg.co.za.. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult-groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie.

Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig.

PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiëlediensverskaffer (FDV 728).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article