Piet Dokter, Welize Dokter, Lee Milford en Eugene Gouws van die Salkoriane-atletiekklub in aksie.


Die atlete van die Salkoriane-atletiekklub het onlangs hul nuwe atletiekjaar op ’n hoë noot begin met hul deelname aan die Leo Benning Grand Prix-meesterskompetisie.

Die geleentheid is Saterdag 13 Januarie op die Parow-atletiekbaan gehou met baan- sowel as veld-items wat aan die orde van die dag was.

Die deelname van Salkor se seniors was deel van hul voorbereiding vir die SA baan- en veld-atletiekkampioenskap, wat in Mei in Potchefstroom plaasvind.

Veral vier atlete het by die byeenkoms uitgeblink.

Lee Milford het aan die 100 m- en 1 500 m-wedlope deelgeneem. In die korter afstand was sy derde in ’n tyd van 18.66 sek. Sy het ook ’n podiumplek in die 1 500 m gekry met ’n tweede plek in 08:14:10 – dit alles tydens haar eerste deelname aan baanitems.

Welize Dokter het aan die gewigstoot en spiesgooi deelgeneem. In gewigstoot het sy ’n tweede plek gekry met ’n gooi van 5.55 m. Sy het haar spies 11.18 m ver gegooi en in die 72-75-jaar-ouderdomsgroep geskitter. Dié prestasie het haar die tweede plek besorg.

Eugene Gouws het die tweede plek in die gewigstoot verower met ’n 7.71 m-gooi. In die spiesgooi het hy ’n afstand van 25.13 m gegooi.

Piet Dokter het seker gemaak hy en sy gade het albei met medaljes na die Weskus teruggekeer met ’n 24.24 m-gooi, wat hom die tweede plek in die spiesgooi besorg het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article