Die Weskus met sy ongerepte natuurskoon en pragtige strande is ’n vakansieparadys vir besoekers, maar selfs inwoners wat vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry, kan toeris in hul eie dorp speel en die talle aktiwiteite wat op hul voorstoep is, geniet. Hier is ’n paar van Weslander se gunsteling-doendinge oor die jare aan die Weskus:
Langebaan
- Geniet 10 km jetski van die pier by Club Mykonos na Schaapen-eiland en terug. Bespreek by Langebaan Jetskis: 072 155 2611 of e-pos wetbikes@gmail.com.
- Gaan ervaar ’n nuwe soort hoogte by Skypark & Zipline by Club Mykonos; vir navrae kontak 022 707 8070.. Gaan loer in by die Weskus Nasionale Park. Hier kan jy leer oor verskillende soorte voëls en hulle natuurlik van nader aanskou. Braaigeriewe is ook beskikbaar.
- Sunnypark in Langebaan bied hope pret aan die jongspan. Kom geniet waterwurms, waterglybane, trapkarre en wipmatte. Daar is ook ’n onderdakwarmwaterswembad wat vir private geleenthede gehuur kan word. Raai wat? Daar is ook braaigeriewe beskikbaar. Skakel 082 379 0450.
Paternoster
- Is jy ’n fietsry-liefhebber? Wel, dan is Wow eBikes & eBike Tours net die ding vir jou; skakel hulle gerus by 083 261 9921.. Besoek die Paternoster Waterfront – hier sal jy restaurante, koffiewinkels, kinderwinkels en vele meer aantref.
- Stone Fish Studio en Galery is ideaal vir toeriste wat belangstel in kuns.
- Geniet ’n drankie in die legendariese Panty Bar van die Paternoster-hotel. Geniet ’n alkoholiese verversing met stoute broekies en buustelyfies net waar jy kyk.. Probeer die verskillende aanbiedinge by die Paternoster-brouery in Seemeeusingel, Pelgrimsrust, of die Paternoster Wine & Tasting Lounge in St Augustine-weg, Paternoster.
- Maak ’n draai by die stylvolle Mondvol-koffiewinkel, ook geleë in Pelgrimsrust, Paternoster. Dié koffiewinkel sit heerlike ontbyt, middagete, koek en varsgebak voor. Geniet ’n heerlike koppie koffie en ’n rustige plattelandse gevoel op ’n groot bedekte stoep terwyl die kinders op trapkarre baljaar.
Vredenburg
- Besoek Scotts Kwekery en aanskou gerus verskeie blomme – gratis.
- Eet ’n “moerse burger” op die Juffroushoogte-gasteplaas buite Vredenburg. Geen verduideliking nodig. Kom kyk self en maak seker jy is baie honger.
- Jumpit Paradise se onderdakspeelpark is ongeag sonskyn of reën dié plek wat kinders terdeë kan geniet!
- Die Weskus Mall bied ’n eenstop vir al jou inkopiebehoeftes.
Velddrif
- Verken die Bergrivier in ’n plesierboot of jy kan selfs ’n trapboot of kajak huur. Bote vaar van Bokkomlaan in Velddrif af en ook op die Port Owen-marina.
- Maak ’n draai in Bokkomlaan, Velddrif, vir ’n outentieke Weskus-ervaring. Benewens die historiese bokkom-huise om te besigtig, is daar ook restaurante met uitsigte oor die Bergrivier in hierdie legendariese stofstraatjie, asook ’n koffiewinkel wat koffieliefhebbers nie teleurgestel dáár sal laat wegstap nie. Columbine Co. se koffie is uit die boonste rakke. Geniet ook hul varsgebakte brode.
- Besoek die SA Visserye-museum in Laaiplek.
- Kyk voëls in Velddrif. Bring jou verkyker en koop ’n voëlboek. Hier is nie net pelikane en flaminke nie. Die moerasagtige vloedvlakte van die Bergrivier bied uitstekende broeiplek vir voëls. Sowat 220 spesies is sedert 2007 in Velddrif gesien.
- Gooi jou lyn in op die ongerepte Soverbystrand tussen Laaiplek en Dwarskersbos. Die Soverby Lapa-restaurant is ’n eetplek wat op die Soverbystrand geleë is. Gaan eet gerus by hierdie oulike plek met sy pragtige seeuitsig. Op soek na ’n trouvenue vir jou sprokiesdag? Maak seker jy vra oor hul baie bekostigbare troupakkette.
- Besoek die Rocherpan-natuurreservaat op die Dwarskersbos-pad onderweg na Elandsbaai – die geskikte uitstappie om besondere voëlspesies te ontdek.
- Drink ’n melkskommel by See Kaia in Dwarskersbos (langs die woonwapark). Wat ’n gesellige Weskusjuweeltjie!
- Eet by Charlie’s Brewhouse in Port Owen en maak seker om sy bier uit te toets.
Hopefield
- Geniet goeie kos, ’n outentieke plaasatmosfeer en vele meer by die gewilde Plaasmol-padstal by Kleine Hopefield.
- Die waterpark by Wacky Adventures beloof tonne pret vir oud en jonk en het nou ook kampeerplek beskikbaar met asemrowende sonsondergange. Dis die perfekte plek om gesinsherinneringe te skep.
- Kyk na fossiele van oerdiere in die Weskus-fossielpark op die R45 naby Langebaanweg. Die verskillende fossiele is sowat 5,2 miljoen jaar oud. Begeleide toere en ’n koffiewinkel is op die perseel beskikbaar.
St. Helenabaai
- Talle plekke in die Weskus het museums wat die streek se ryke geskiedenis uitbeeld. As dit jou belangstelling prikkel, maak seker jy maak ’n draai by die Vasco da Gama-museum, wat die aankoms van Vasco da Gama se ekspedisie in 1497 herdenk.. Shelley Bay-strand is ideaal vir visvang en seilvaart.
- Die kusdorp pronk ook met talle lekker opsies vir ontbyt en middagete terwyl jy oor die kalm seewater uitkyk: Alegria, Die See Ster Kombuis en Oppikaai, om net ’n paar te noem.
Saldanha & Jacobsbaai
- Drink ’n skemerkelkie en bewonder die uitsig van die Saldanha Bay Hotel se stoep en smul ook sommer aan iets te ete van die spyskaart af.
- Ontmoet ’n koekedoor by Cup of Cake in Saldanha. Sanet Eigelaar, ’n finalis in die televisiebakkompetisie Koekedoor, is die gasvrou by hierdie oulike koffiewinkel, of besoek Sandstone Café, gewild vir sy enorme melkskommels. Al die bogenoemde eetplekke en hotelle is in die Hoofstraat van Saldanha geleë.
- Pak jou strandsak, plakkies en sonbril en geniet ’n dag se swem en sonbaai op Hoedjiesbaai se strand of besoek die Hoedjiesbaai-hotel langsaan vir sy heerlike buffet-etes.
- Jacobsbaai se eie feetjie- en dwergieparadys genaamd Pixieland maak altyd ’n groot indruk op die jongspan en die kusdorp het ook nie ’n tekort aan lekker restaurante nie.
- As jy oor die see wil uitkyk terwyl jy aan lekker kos smul, maak gerus ’n draai by Daai Plekkie in die Weskus; jy kan in die gemak van jou stoel ’n oog oor die kinders hou terwyl hulle op die strand baljaar.



