“Do what you can, with what you have, where you are.”
Hierdie is die tema vir vanjaar se Mandeladag (18 Julie) en geen volk leef dié boodskap so goed uit soos Weskussers nie.
Ons lag en druk deur die vele uitdagings van beurtkrag en brandstofpryse tot die bibberende koue.
Tog, met die min wat mense het, is daar vele Weskussers wat dag na dag die bietjie wat hulle wel het, deel. Hier aan die Weskus het inwoners lank gelede geleer om saam te huil en saam te staan. Die tema van Mandeladag is daarom nie ’n vreemde konsep vir ons hier nie, want die sopkombuise deel daagliks kos uit aan kinders en bejaardes. Plaaslike ondernemings en organisasies ondersteun die sportklubs met skenkings van toerusting en uitrustings. En by vele skole kry kinders kos saam met hul lesse.
Dit kan daarom nie ’n swarigheid wees om hierdie Mandeladag (of -maand) na jou naaste uit te reik en met hulle te deel nie. ’n Mens kan soms nie raai watter groot verskil ’n klein gebaar van liefdadigheid, ondersteuning of ’n skenking vir die ontvanger daarvan kan beteken nie – doen dus wat jy kan met wat jy het, waar jy ook al kan.

