As dit goed voel, doen dit!
Dis ’n ou gesegde en word dikwels met die hippies van destyds geassosieer. Maar ons weet vandag die hippie-leefstyl en die kontroversiële dinge wat somtyds daarmee gepaard gegaan het, was miskien pret vir ’n rukkie, maar onvolhoubaar.
Moet dan eerder nie altyd doen wat goed voel nie – doen wat jy weet reg is.
Al is die hippie-era lankal verby, hoor ons steeds uitdrukkings soos “volg jou hart” en “doen [dit] wat vir jou werk”. Die Bybel sê mos die hart is meer bedrieglik as enigiets anders. Dis ongeneeslik; wie kan dit verstaan?
Die moderne mens het verslaaf geraak aan onmiddellike bevrediging en gemak, selfs ten koste van sy eie gesondheid sowel as sy verhoudings met kinders en eggenote.
“Doen wat NOU goed voel” en “gee jouself NOU die ding wat jou hart begeer”, is daarom baie onwyse raad en het die potensiaal om jou diep in die moeilikheid te kry. Lees gerus Esmé Cupido se rubriek hieronder. Sy slaan die spyker op die kop. Die mens is geneig om die dinge wat werklik belangrik is – die dinge waarvoor ons moet wag en werk – vir NOU se gemak te ruil. Spaar eerder as om skuld te maak; kweek eerder ’n nuwe gesonder leefstyl as wat jy elke keer die kitsoplossing kies wat jou gesondheid kan skade doen en in elk geval op die lang duur nooit werk nie.




