’n Baie belangrike ekonomiese aanwyser in ’n land is die land se Bruto Binnelandse Produk, oftewel BBP. Dit is een van die meganismes waarmee die grootte van die ekonomie gemeet kan word. In gewone Afrikaans beteken dit die algehele markwaarde van alle finale goedere en dienste wat gedurende ’n jaar binne ’n land geproduseer word.
Indien die land se bevolking gedurende die jaar met 1% groei, is dit nodig dat die reële BBP ook met 1% sal groei sodat almal gemiddeld dieselfde welvaart as die vorige jaar kan beleef. Indien die inflasiekoers 5% per jaar is, beteken dit dat die BBP in Randwaarde eintlik met 6% moet groei net om almal op dieselfde vlak van welvaart as die vorige jaar te hou (reële waarde) indien die bevolking met 1% gegroei het.
Sou die BBP op ’n jaar-tot-jaar-basis dieselfde bly terwyl die bevolking groei, beteken dit ons raak gemiddeld al hoe armer. Daarom moet elkeen van ons ons deel doen om voortdurend meer te produseer sodat ons as Suid-Afrikaners meer welvarend kan raak as wat ons in die verlede was.
Ongelukkig is dit nie maklik om al die eendjies in ’n ry te kry om dit te bereik nie.
Vir bykans twee jaar het Covid-19 ’n vernietigende invloed op die land se ekonomie uitgeoefen. Vir weke en maande is ons verbied om te werk of allerhande beperkings is ingestel wat meegebring het dat die BBP ’n geweldige knou toegedien is.
Die vorige twee jaar het gewelddadige en vernietigende betogings en opstande, asook groot vloede, tot enorme verliese vir baie besighede en skade aan infrastruktuur gelei.
Die afgelope jaar was daar verskeie stakings, onder meer by Transnet, wat onder meer meegebring het dat produkte wat plaaslik geproduseer is, nie vervoer en uitgevoer kon word nie. Baie vars produkte het by die hawens gelê en verrot – ’n groot terugslag vir die BBP.
Voorts is daar nog steeds geen einde aan die probleme met elektrisiteitsvoorsiening nie. Beurtkrag veroorsaak dat mense en besighede wat produkte en dienste produseer, se produksie drasties verminder teenoor wat dit kon gewees het. Nog ’n groot knou vir ons BBP. Dit bring ook mee dat baie mense hul werk verloor.
Ander groot struikelblokke in die ekonomie is die enorme vlakke van misdaad en korrupsie. Al sodanige bedrywighede kalwer die basis van ons ekonomie weg en erodeer ekonomiese groei. Nog ’n groot knou vir ons BBP.
Met bogenoemde in ag genome, wat is die kans vir ekonomiese groei en vooruitgang in Suid-Afrika? Voeg daarby die politieke onstabiliteit en swak leierskap en ’n mens kan verstaan dat mense sê hulle voel hulle raak al hoe armer. Ja, dit is inderwaarheid so. Alhoewel Suid-Afrika oor ongelooflike hulpbronne beskik, word ons produksie (BBP) sodanig ondermyn dat groei en vooruitgang onmoontlik is.
Miljoene rande word bestee aan hofsake oor korrupsie, onbevoegde leierskap, rassisme, haatspraak, ens. Ongelukkig dra dit niks by om die land se produksie te verhoog nie. Dit gaan oor mense wat aan posisies vasklou en dienste wat nie gelewer word nie.
Voorts is die politieke diskoers in die regerende party en sy alliansievennote ook ’n bron van kommer vir elkeen wat die belange van hierdie mooi land op die hart dra.
Ongelukkig is bogenoemde alles realiteite waaraan ons al so gewoond geraak het, dat ons maar daarmee saamleef. Maar dit werk ongelukkig alles mee aan ’n afwaartse spiraal wat besig is om die land op sy knieë te dwing. Ek is nie ’n pessimis nie, maar indien ons nie almal dieselfde groeidoelwitte gaan begin nastreef en die regering nie misdaad en korrupsie behoorlik gaan vasvat nie, gaan ons nie maklik uit dié negatiewe spiraal ontsnap nie.
Ek hoop van harte dat die volgende verkiesing vir ons ’n nuwe rigting sal aandui. Ons almal wil graag ’n goeie toekoms vir ons kinders onder die Afrika-son sien.. David Malherbe is ’n besigheids- en loopbaankonsultant van Langebaan. Kontak hom gerus by davidmalherbe1@gmail.com.




