As kinders moes ons gereeld hoor: “Waar is jou maniere?” Dikwels was dit wanneer ons vergeet het om asseblief of dankie te sê. Respek vir volwassenes en ouer mense was ook sinoniem met goeie maniere: “Groet jy nie die oom of tannie nie? Waar is jou maniere?” Of, “Ek het jou mos nie so grootgemaak nie.”

Ek is nou nie meer in die skool of ’n onderwyser nie, maar die dinge waarvan ek lees en hoor wat deesdae by sommige skole gebeur, klink vir my ver verwyderd van die “goeie maniere” wat by ons ingedril is.

Nou sien ek by ’n skool word die karaktereienskappe wat hulle as goeie waardes geïdentifiseer het, teen ’n muur op die speelterrein aangedui. Ek veronderstel dit is ook met die leerders bespreek en dat hulle waarskynlik van tyd tot tyd daaraan herinner word.

So iets is betekenisvol aangesien dit eenvormige norme en waardes stel vir die soort gedrag wat as aanvaarbaar en wenslik geag word. Die belangrike hiervan is dat dit die onderbou van die skool se kultuur vorm.

Selfs in die sakewêreld word deesdae baie meer klem op waardes gelê. Daar word selfs programme vir sakeondernemings aangebied met die doel om goeie karaktereienskappe en waardes in ondernemings te vestig. Tydens strategiese beplanning word deesdae nie net op visie, missie, doelwitte en sleutel-prestasieareas gefokus nie, maar die aanvaarbare waardes vir die maatskappy word as ewe belangrik beskou.

Ja, ek het al ondernemings besoek waar, soos by bogenoemde skool, plakkate teen die mure aandui watter waardes of karaktereienskappe die maatskappy nastreef. Werkers kry dan opleiding aangaande hierdie karaktereienskappe wat nagestreef word. Werkers wat deurlopend hierdie goeie karaktereienskappe uitleef, kan dan selfs belonings of eerbewyse daarvoor ontvang.

Lees of kyk ek egter na die jongste nuusgebeure, lyk dit my baie van ons leiers skiet ver te kort hieraan en stel ’n baie swak voorbeeld.

Die manier waarop leiers van verskillende partye onder mekaar inklim en mekaar slegsê, laat veel te wense oor. Menige van ons land se leiers word uitgevang omdat hulle betrokke was by korrupsie of ander onetiese gedrag. Ongelukkig sien ons selde of ooit dat hulle skuldig bevind of geskors word. Néé, ons sien eerder dat hulle na ’n hoër pos met ’n selfs groter salaris bevorder word.

Hoe leer ons ons kinders goeie waardes as dit is waarmee hulle grootword? Ja, hulle is ook ingelig oor gebeure wat in die nuus is. Hoe leer jy ’n kind “crime doesn’t pay” wanneer dit lyk asof dit deesdae al is wat “pay”? Die misdadigers is van die mense wat met die blinkste motors ry en wat by glansgeleenthede uithang.

Ongelukkig het dit ’n groot invloed op die morele onderbou van ons nasie. Wanneer ons nie meer ons leiers kan vertrou om reg en regverdig op te tree nie en hulle nie vir ooglopend misdadige aktiwiteite vervolg word nie, maak dit die deur oop vir selfs verdere verval.

Die feit dat sogenaamde vooraanstaande mense al hoe meer vir onetiese of selfs misdadige optrede uitgewys word, beteken egter nie dat dit nou meer aanvaarbaar as vroeër is nie. Om te sê “ag, almal doen dit tog” maak nie dit wat verkeerd is, reg nie.

Volgens Efesiërs 2:10 het die Here ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Verder sê Paulus in Galasiërs 6:9-10 “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie . . . Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen . . .”

Laat ons daarom versigtig wees om nie meegesleur te raak deur die negatiewe “almal- maak-maar-so”-tydgees nie. Kom laat ons as gemeenskappe saamstaan vir dit wat goed en opbouend is.

Kom laat ons aanhou om ons kinders op te voed in dit wat goeie maniere en eerbare gedrag is. Ons almal se toekoms sal uiteindelik bepaal word deur hul karakter en morele waardes. . David Malherbe is ’n vryskutskrywer van Langebaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article