’n Herstellende alkoholis van Porterville inspireer nou talle mense met haar resensies van nie-alkoholiese-drankies op TikTok.
Christel Griffiths, wat verlede week haar sewende maand sonder drank gevier het, sê haar TikTok-video’s is deel van haar genesingproses en hou haar verantwoordbaar terwyl sy ander wat met alkoholisme sukkel, hoop gee.
In een van haar eerste video’s op dié gewilde sosialemediaplatform staan Christel voor ’n hele tafel vol bokse wat Takealot by haar huis kom aflewer het. Met kinderlike opgewondenheid en haar innemende droë sin vir humor maak sy die bokse oop en wys aan haar TikTok-volgelinge die groot verskeidenheid nie-alkoholiese wyne, biere en mengeldrankies wat sy bestel het.
In hierdie video beloof sy om ’n resensie oor elke drankie oor die volgende paar weke op TikTok te publiseer.
Nie net is elke video wat daarop volg ’n resensie in eie reg nie, maar Christel is ook baie eerlik oor haar blindekolle. Sy gee praktiese raad aan herstellende alkoholiste en demonstreer in haar video’s dat nie-alkoholiese drankies net so genotvol en pret soos regte drank kan wees, en dat ’n mens nie alkohol nodig het om ’n lekker tydjie saam met vriende te geniet nie.
Christel het aan Weslander gesê sy het vir baie jare met alkoholisme gesukkel. Sy het al voorheen ’n paar keer opgehou drink, maar die versoeking het elke keer weer gekom wanneer sy sosiaal verkeer. In ’n oomblik van swakheid gee sy in, en voordat sy haarself kom kry, drink sy weer so baie soos van ouds.
Sy het nie haarself as ’n alkoholis beskou nie, maar eintlik het sy haarself net geflous, reken sy.
“Ek het geleenthede geskep om te kan drink en myself verbeel ek is ’n sosiale vlinder, maar eintlik was ek seker eerder ’n sosiale brommer,” skerts sy.
In elke video sluit sy ’n gesonde dosis gekskeer met haarself in, terwyl haar stemtoon op een noot bly en sy nie eens een lagspiertjie in die proses verroer nie. Haar vlymskerp humor, wat ’n pynlik eerlike kykie in die lewe van ’n herstellende alkoholis bied, vind duidelik aanklank by mense wat hulle met haar kan vereenselwig, want haar volgelinge groei met elke video wat sy publiseer.
As haar pogings om op te hou drink voorheen misluk het, wat maak hierdie keer anders?
Sy sê dit was God se ingryping wat die verskil gemaak het. En sy is steeds bang dat sy weer kan begin drink, maar hou aan geloof vas.
Natuurlik help die motiverende en dankbare boodskappe wat sy van ander mense ontvang vandat sy die TikTok-video’s maak, haar om sterk te bly staan.
Sy onthou hoe sy een aand dronk voor die spieël gestaan en haar tande geborsel het.
Sy en God het ’n oomblik gehad.
“Ek is mos nie ’n slegte mens nie, Here. Kan U my nie net help om hierdie ding te oorkom nie, asseblief?” het sy gepleit.
Maar die volgende dag het sy maar net weer gedrink. “Every hour was wine o clock,” onthou sy.
Sy het die derde keer dat sy deur covid platgetrek is, opgehou drink. Die laaste keer wat sy Covid-19 gehad het, was sy so siek dat sy nie kon drink nie.
Sy het al meer sodawater by haar drank begin gooi, want sy kon eenvoudig nie die gewone dosis alkohol in haar liggaam inkry nie.
Uiteindelik was so min alkohol in haar glas dat sy dit net sowel kon uitlos.
“Ek het myself gespeen van die alkohol sonder dat ek dit agtergekom het,” vertel sy.
Hoewel covid ’n aaklige ervaring was, is sy baie dankbaar dat God dit gebruik het om haar van drank te verlos.
Sy sê dit voel heerlik om nugter te gaan slaap.
Sy kan deesdae na enige plek ry wanneer sy wil, want sy is nooit meer onder die invloed van drank nie, en selfs haar man het haar gekomplimenteer oor hoe lekker sy deesdae ruik.
“Hy sê ek ruik nie meer soos ’n wynkelder nie,” sê sy trots.
Sy is nie skaam om die alkoholis-etiket aan haarself te hang nie en ook nie om dit in haar video’s te noem nie.
“Almal weet dit tog in elk geval van my,” verduidelik sy.
Sy glo deur dit nie weg te steek nie, kan dit ander mense help om nie die skande van alkoholisme te ervaar nie en uit te reik vir hulp.
Haar raad aan herstellende alkoholiste is om altyd ’n voorraad nie-alkoholiese drankies byderhand te hou en om dit selfs in hul motor te hou.
“Jy weet nooit wanneer jy genooi word vir middagete nie. En jy weet nie of die restaurant nie-alkoholiese wyn aanhou nie. Maak seker dat jy nie in versoeking geplaas word nie. Betaal eerder die kurkfooi en bring jou eie nie-alkoholiese wyn, eerder as wat jy die kans waag om in te gee,” het sy verduidelik.
“Onthou, een slukkie alkohol is soos om die duiwel te soen.”. Volg gerus @christelgriffiths op TikTok om haar in haar nie-alkoholiese reis na gesondheid te ondersteun of om self deur haar sukses geïnspireer te word.




