Dis tyd dat oorsese beleggers begin besef hulle kan nie net kom maak en breek soos hulle wil nie. Die onlangse goedkeuring vir die maatskappy Seismic Searcher om aan die Weskus te eksploreer is oneties en belaglik.
So ook die planne van die NS Qingdao-vragskip wat tonne chemiese en toksiese gasse aan die Weskus, in St. Helenabaai, wil stort.
Buiten dat hierdie seismiese opnames en die stort van toksiese gas groot risiko’s inhou en ’n enorme inbraak op die biodiversiteit van die seelewe maak, is dit ook ’n snotklap in die gesig van vissers.
Vissermanne en -vroue, soos ons weet, maak al vir jare ’n bestaan uit die see uit. Dis hul brood en botter. Die goedkeuring van hierdie opnames en storting van chemiese stowwe het dus ook ’n groot nadeel vir die lewenstandaarde van die gewone visserman en vissersvrou aan die Weskus.
As boorlinge van die Weskus kan ons nie sit en toekyk hoe ons see besoedel word nie. Verder kan ons nie toelaat dat ons kultuur en tradisie, wat grotendeels in die see geanker is, tot niet gaan nie.
’n Tradisie en kultuur wat diep binne-in my gewortel is. Wat deur my bloed en are vloei. ’n Tradisie en kultuur waarvan ek nooit sal vergeet nie.
Ek onthou toe ek nog jonger was en my pa nog gelewe het, het ons elke Saterdag in Saldanhabaai of in die Bergrivier in Velddrif gaan hengel. Dit was vir my van die lekkerste tye as kind.
My pa was ’n visserman.
Sommige naweke het ons Dwarskersbos toe gery om te gaan witmossels uithaal met ons voete. Dan was daar naweke waar ons prawns uitgepomp het by die rivier wat ons dan gebruik het (as aas) om mee vis te vang. My pa se hele lewe het rondom die see gedraai.
Dan was daar naweke wat ons by Rooibaai op Laaiplek die bakkie gaan afhaak en gaan harders vang het.
Naweke waar ons na Bokkomlaan in Velddrif sou gaan om bokkoms te gaan koop. Visgeregte was maar die koning van alle ander geregte op die tafel – veral elke Maandag. Kyk, Maandae staan mos aan die Weskus as visdag bekend.
Ek onthou hoe my pa van die see af sou kom met die dag se vangs. Dan staan die mense tou in ons straat af om te kom snoek koop. My pa het gewoonlik die snoek oopgevlek en die nodige A-Z gedoen om die vis skoon te kry. Ek sou dan die sak growwesout gryp en begin om die snoek van binne tot buite te smeer. Ons is geleer dat die sout die vis lekker vars sal hou.
Die oorskietvangs sou dan eenkant gesit word om mee droë snoek te maak. Ons sou die vis ná die skoonmaakproses lekker sout invryf. Dit op ’n draad hang en met ’n net toegooi sodat die vlieë nie kan kom feesvier nie. Maar ook die katte hulself in toom kan hou.
Sodra die snoek ná ’n paar weke droog getrek het, sou die mense weer kom tou staan om stukkies droë snoek te koop.
Daar was dae wanneer ons as Weskusgesin ’n vuurtjie sou maak – en harders braai. Nadat ons die paar harders gebraai het, het my pa ’n paar patats uitgebring waarna ons dit dan in die kole gesteek het. Ná ’n paar minute onder natuurlike hitte sou ons daarmee feesvier met ’n vars gebakte brood aan tafel.
Vandag is my pa nie meer nie, maar die kultuur en tradisie leef in my voort. Maar so ook is dit in die duisende ander Weskussers se huis.
Dus om ons tradisie en kultuur te beskerm en te behou, is dit broodnodig vir ons as inboorlinge om te sê “genoeg is genoeg,” en “hou julle pote en bote uit onse water uit”.
Vir te genoeg is Afrika beskou as ’n plek of kontinent waar buitelanders kan kom eksperimenteer net soos wat hulle wil. Die nadeel bly ongelukkig dus altyd dat die inboorlinge aan die agterste speen suig. Wat heeltemal onregverdig en oneties is.
Die nalatenskap van hierdie projekte gaan die seelewe van sy natuurlike habitat ontneem. Hiermee saam kan baie seediere en plante ook hul lewe verloor. Wat dus tot gevolg sal hê die verdere swaarkry van hardwerkende vissers aan die Weskus – iets wat ons nie kan bekostig nie!





