Die nuwe jaar is vinnig besig om spoed op te tel. Dalk het jy al jou voornemens en doelwitte neergepen en begin jy al te werk aan daai eerste twee groot doelwitte. Dis reg en goed so, want almal van ons strewe daarna om ’n nuwe jaar op die regte noot te begin en op ’n hoe noot af te sluit.

Nie waar nie?

Vir my het die nuwe jaar op ’n gepaste wyse begin. Ek wou die ou jaar afsluit en die oorgang na die nuwe jaar op ’n geestelike wyse begin. Dit het inderdaad my siel goed gedoen. Ek kon na binne kyk en introspeksie doen. Ek kon reflekteer op die jaar wat verby is . . . die hoogtepunte en laagtepunte ingesluit.

Waarvan ek op ’n geestelike vlak meer as ooit vantevore bewus geraak het, was en is die belangrikheid van dit wat in jou hart leef. Ek kan net vir myself praat. Daar was en is die begeerte in my diepste wese om my ankers dieper te gooi om uiteindelik die beste weergawe van myself te wees en te leef. Is dit nog enigsins moontlik in die tye waarin ons leef? Want . . .

Ek lees so ’n paar dae gelede van ’n bitter hartseer voorval waarin nog ’n kind op die Kaapse Vlakte in die spervuur beland het. Nog ’n pa, eggenoot, kollega en vriend is op pad na sy werk koelbloedig doodgeskiet. Hoofopskrifte in ’n prominente aanlyn koerant berig dat ’n volwasse man ’n jong seun verkrag het. Iewers in die land word nog ’n bedrogsaak oopgevlek. En die nood onder ons jeug om die siklus van jare lange werkloosheid te verbreek, word by die dag al erger. Die prentjie kan nog verder ingekleur word.

’n Mens kom telkens voor die geneigdheid te staan om te vra wie die skuld vir hierdie duister prentjie moet dra. Is ons as mens maar net so wreed van aard dat ons glad nie meer omgee nie? En as ons die treurige prentjie voor ons aanskou, wil ek waag om te wonder of ons nie al begin handdoek ingooi en die “hear nothing, see nothingand say nothing”-benadering het nie. Dit sal ’n hartseer dag wees as ons wel al daardie punt bereik het.

Met die jaar wat nog kraakvars voor ons uitgestrek lê, wonder ek wat ons sal kies om ons harte mee vol te maak. Gaan dit maar weer dieselfde negatiewe hartsgoed van die verlede wees wat nie net die self nie, maar ook ander seergemaak het? Gaan ons weer kies vir jaloesie en afguns, wraak, bedrog, magsbeheptheid ten koste van ander, haat, wreedheid teenoor ander, manipulasie, mishandeling en soveel ander euwels wat hieruit spruit?

Ons blote reaksie mag of kan wees dat ons nou maar eenmaal in ’n gebroke wêreld leef waar al die bogenoemde alledaags begin word het. Ons kan te kenne gee dat dit nou maar eenmaal is soos dit is en anderpad kyk. Of . . .

Is dit nie dalk vir ons nodig om in die jaar wat voorlê, toe te laat dat dit wat in ons hart aangaan, gelouter en gesuiwer word sodat ons die duister prentjie in ’n kleurvolle pragskildery kan verander nie? Is dit bloot wensdenkery teen die agtergrond van dit wat reeds genoem is? Ek dink nie so nie, want daar is soveel mooi stories van mooi mense met mooi harte in ons mooi land.

Dit gee my hoop om nog meer van die goeie wat in myself opgesluit lê, met ander te deel.

Ek het my nuwe jaar op ’n geestelike noot begin. Dalk het ons nodig om die jaar wat voorlê, dieper te gaan delf vir die geestelike waarhede en rigtingaanwysers sodat ons nie oorweldig sal word deur die negatiewe dinge wat daagliks om ons afspeel nie.

Dalk het ons meer as ooit nodig om ons geloof prakties uit te leef sodat ander die impak daarvan positief kan beleef en ervaar. Anders as in die verlede het ons dalk nodig om minder woorde te gebruik en deur ons dade te bewys dat ’n hartsverandering wel by ons plaasgevind het.

Die hartsverandering sal egter slegs kom en gebeur as ek eerlik sal wees met die mens in die spieël; dat ek eerlik sal wees aangaande my verwronge hartsgoed wat die meeste van die tyd skadelik van aard is.

Dalk het die man in die spieël nodig om nederig te word en die geraamtes van die verlede vaarwel te roep en ’n nuwe koers in te slaan; die nuwe koers saam met ander nuwe hoofstukke begin skryf oor alles wat moontlik is om vir ander ’n stukkie van die hemel op aarde moontlik te maak – nie eendag nie, maar hier en nou.

Dit is my opregte gebed dat jou hart sal heel word van die seer uit die verlede. Dis my hoop dat jy saam met my die ontdekkingstog na ’n nog sinvoller bestaan sal aanpak en dat ons harte meer lig as donker sal weerkaats; dat ons saam ons deel sal doen om die soms droewige prentjie wat in ons gemeenskappe en land afspeel, met durf, waagmoed en geloof aan te pak.

Wat leef in jou hart?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article