Die Wes-Kaapse regering het aangekondig dat ’n verbod op organiese afval by stortingsterreine teen 2027 in werking sal tree.
Volgens Charlotte Nell, ’n konsultant vir die bestuur van vaste afval en wat onlangs deur die Saldanhabaai-munisipaliteit aangestel is om kommunikasie rakende die uitdagings van afvalbestuur te bevorder, is hierdie verbod ’n noodsaaklike stap om die omgewing te beskerm en volhoubare afvalbestuur te bevorder.
“Vir die Saldanhabaai-munisipaliteit beteken dit dat ons reeds nou moet begin beplan en implementeer, want die afleiding van afval van die stortingsterrein sal nie oornag gebeur nie.”
Nell sê ’n onlangse opname onder inwoners het gewys slegs 17% van hulle is bewus van hierdie toekomstige verbod. “Dit beklemtoon die behoefte aan groter bewusmaking en opvoeding oor die belangrikheid van hierdie maatreëls. Gelukkig het 93% van die deelnemers aangedui hulle wil graag meer inligting oor die nuwe regulasies ontvang en hoe dit hulle gaan raak.”
Nell verduidelik waarom hierdie verbod belangrik is.
Die ontbinding van kosafval stel metaan vry, ’n kweekhuisgas wat 25 keer meer skadelik as koolstofdioksied is. Deur organiese afval te skei en te komposteer, kan hierdie gevaarlike gasse drasties verminder word en die bydrae tot klimaatsverandering beperk.
Organiese afval is nie net ’n las nie, maar ’n waardevolle hulpbron. Kompostering van kos- en tuinreste kan vrugbare kompos produseer wat in tuine en landbou gebruik kan word. Dit verminder die behoefte aan chemiese kunsmis en bevorder ’n gesonde, volhoubare omgewing.
As organiese afval op stortingsterreine beland, kan die afbreek daarvan vloeistowwe vrystel wat deur die grond kan syfer en grondwater besoedel. Hierdie besoedeling kan ernstige gesondheidsrisiko’s vir mense en diere in die omgewing inhou.
“Ons het ’n beperkte hoeveelheid ruimte op ons Vredenburg- stortingsterrein. Deur organiese afval af te lei, kan ons hierdie beperkte ruimte bespaar vir afval wat nie herwin of hergebruik kan word nie.”
Om voorbereid te wees vir die 2027-verbod, het die munisipaliteit reeds aan verskeie inisiatiewe begin werk.
Een van die belangrikste projekte is die komposteringsproef wat op 23 Mei by die Langebaan-oorlaaistasie begin het. Melanie Ludwig van ZTL Organics het munisipale amptenare, onder wie David Wright en Abubaker Nackerdien, in die werk gesteek en hulle die nodige opleiding gegee oor hoe om doeltreffend op groot skaal te komposteer. Hierdie proef stel die munisipaliteit in staat om praktiese ervaring op te doen in die hantering van organiese afval en die produksie van kompos.
“As deel van ons pad vorentoe is die munisipaliteit besig om ons huiskomposteringprojek verder uit te rol. Inwoners kan van September af aansoek doen vir hul eie huiskomposteerder – meer inligting sal nader aan die tyd bekend gemaak word.
Die munisipaliteit kyk ook tans na alternatiewe vullisverwyderingsmetodes om organiese afval meer doeltreffend in te samel en te verwerk. Groot organiese afvalgenereerders word geïdentifiseer en die munisipaliteit is besig om met hulle in verbinding te tree. Baie van hulle het reeds hul eie projekte en stuur nie hulle organiese afval meer stortingsterrein toe nie,” sê Nell.
Verder versoek die munisipaliteit dat tuinvullis skoon afgelaai word by oorlaaistasies en die stortingsterrein, waar dit in mulch (’n soort grondkombers) verander sal word om waardevolle materiaal aan die omgewing terug te gee.
Verder werk die munisipaliteit hard aan die ontwikkeling van ’n plan vir die verbod.
Hierdie plan sal die nodige infrastruktuur en prosesse insluit om te verseker dat die gemeenskap gereed is om die nuwe regulasies na te kom en die voordele daarvan te pluk.
Hoe kan inwoners deelneem?
Dit is noodsaaklik dat die gemeenskap saamwerk om hierdie doelwitte te bereik. Inwoners kan begin deur organiese afval tuis te skei en aan plaaslike komposteerprogramme deel te neem.
Nell moedig almal aan om meer te leer oor die nuwe regulasies en hoe hulle kan bydra tot ’n skoner en gesonder Saldanhabaai.
. Vir verdere inligting en betrokkenheid, kontak die Saldanhabaai- munisipaliteit se vaste-afval-afdeling.



