Slegte weerstoestande het die afgelope naweek by die Saldanha Animal Care (SAC) verwoesting gesaai.
Volgens Zanette Kellerman van die SAC is geen diere beseer nie, maar strukturele skade is opgedoen.
Die SAC huisves tans 50 honde by die skuiling.
“Omtrent 90% van dakke het afgewaai en is beskadig. Die heinings tussen die hokke is ook beskadig, wat veroorsaak het dat die honde mekaar aanval.”
Met die meeste reën wat Sondag 7 Julie uitgesak het, kon nie veel herstelwerk gedoen word nie. Kellerman sê die manne by die skuiling het ingespring om die honde so veilig en so droog as moontlik te kry.
Die Weskus-gemeenskap het nie geskroom om in te spring en te help nie.
“Maandagoggend is my vertroue in die mensdom weer effens herstel. Ek weet nie hoe om dankie te sê aan omliggende boukontrakteurs en hulle manne wat deur die wind en weer gewerk het om struktuurskade te herstel en dakplate te vervang nie.
“Dankie aan al die hande wat kom help het om komberse te ruil, vragte hout-boumateriaal af te laai en kos vir almal wat by die skuiling werk, aan te ry.”
Sy bedank ook Prinro, Duferco, Agrimark, Van Dyk, Precast en Frank’s Hardware vir die skenking van boumateriaal. Kellerman meen baie moet nog gedoen word, “maar met die hulp van die bouers wat uit hul pad gegaan het om te help, weet ek ons sal die stryd wen.”
Sy bedank ook Agterbaai Dierekliniek, Long Acres Veeartse, Rawson, die LJDJ-groep, Rawson Velddrif en die gemeenskappe van St. Helenabaai, Vredenburg, Saldanha en Langebaan.
“Ons benodig nog dringend sinkplake om restourasies te voltooi. Noodsaaklike boumateriaal wat kritiek nodig is, sal met geld wat geskenk is, gekoop word.”. Indien jy enige skenkings aan die SAC wil gee, kontak Kellerman by 082 921 0233.





