Ek sit op vlug 4Z605, in die lug op pad van Bloemfontein af Kaapstad toe.
Ek is aan boord ’n beknopte Embraer 135-straler.
Elke sitplek is vol.
Ek sit heel agter in die vliegtuig, sitplek 15B.
Agter my sit 16 C, B en A. Dis drie mammas, want ek hoor hoe spog hulle oor hul kinders. “Ek kan steeds nie glo dat René volgende jaar gaan studeer nie. Julle is seker baie trots op haar?” vra die een mamma. Die ander mamma antwoord trots.
Links van my sit ’n jong man, ek skat hom in sy 20’s. Hy is goed gebou. Voor hom sit ’n ouer man. Die man draai die heeltyd om en gee vir die jongman raad: “As hulle later omkom met die trollie vol kos en koeldranke, onthou dat jy niks op daardie trollie mag eet of drink nie. Ons het ’n goal om te haal. Fokus,” sê die ouer man.
Die jongman knik sy kop. Hy grou in sy tas en haal ’n groot kosblik uit. Hy haal die deksel af en haal ’n klein plastiekvurk uit en begin dadelik aan die rys te smul. Dis egter sy tweede kosblik wat ’n soort van ’n hoendergereg bevat wat die hele vliegtuig na ’n sopkombuis laat ruik.
Die ouer man voor hom sit met sy selfoon in die hand en kyk na YouTube-video’s van ’n groot man in ’n gimnasium. Die man poseer en wys eers sy biceps; daarna poseer hy met sy lyf en wys al sy ander spiere. In een van die posisies druk die man die pause-knoppie en beduie dan vir die jongman agter hom: “Onthou dié een. Dis belangrik. Onthou wat ek jou geleer het. Onthou ons goals!”
Ver in die vliegtuig se gang af kom die lugwaardin aangestap. Sy is groot vir ’n lugwaardin – lank, en haar skouers is breed. Sy is ’n groot vrou, amper soos ’n plus-size-model. Hoewel sy groot gebou is, is sy ’n mooi vrou. Sy lyk pragtig met haar grimering en haar hare, wat in ’n netjiese bolla vas is.
Sy is nie ’n tipiese lugwaardin nie, tog laat sy dit haar nie afskrik nie.
Marike is so professioneel en vriendelik soos al die ander lugwaardinne wat my al oor die jare op vliegtuie bedien het.
“Het julle gehoor wat met die arme o.16B-hokkiespan gebeur het?” Die vrou beantwoord haar eie vraag met ’n volgende vraag: “Hulle het 8-0 teen Grey verloor. Ai, ek het Boishaai se manne so jammer gekry.”
Die ander vrou hak af. “Ja dis omtrent ’n . . .”
Sy bars uit van die lag.
“Jammer, amper gebruik ek ’n lelike woord. Dis ’n groot pak slae,” sê sy.
Die drie vrouens klets verder hier agter my, maar ek raak so half aan die slaap. Ek slaap altyd op my lekkerste net voordat die kos op die vliegtuig voorgesit word.
“Chicken or beef?” vra Marike vir ’n vrou met dreadlocks in haar hare, wat bo-op haar kop in ’n groot bolla vasgebind is.
“Chicken, please,” antwoord die vrou.
Die man langs dié vrou vra vir Marike wat is in die hoenderopsie.
“Dis ’n Chicken-mayo-broodjie, meneer. Dis heerlik,” antwoord Marike.
“Chicken, asseblief,” antwoord die man.
Die vliegtuig se gang is egter so nou dat Marike so half skuins moet loop sodat sy niemand met haar skouers stamp nie. Sy hanteer die trollie en elke passasier moeiteloos.
Later is dit tyd om te land en volgens my slim-horlosie se barometer-funksie is die vliegtuig op daardie tydstip nog 550 meter in die lug en nog so half bo die wolke. Dis egter wanneer ons onder 500 meter kom dat ’n mens kan sien hoe snaaks is van die wolke gevorm. Die een wolk se onderkant is plat. Dit lyk of dit glad nie by die ander wolke pas nie.
Die vrou langs my kyk na my en sê: “Die wolke lyk fake.”
Ek glimlag en dink aan die lugwaardin wat die teenoorgestelde is van die wolke.





