“Dis oor my mond dat ek vandag hier lê.” Wie van ons onthou nog hierdie gesegde? Darem die wit waarheid, nê?

Volgens oorlewering kom hierdie gesegde van iemand wat nou maar eenmaal net nie sy mond uit ander se sake kon hou nie.

Dít het eendag tot ‘n hewige rusie tussen dié slagoffer en iemand anders gelei en die gevolge was noodlottig.

Die oorledene het sy lewe as gevolg van sy tong verloor. Toe hy ses voet ses onder die grond lê, vra een van sy mede-ses-voet-sessers hoe hy daar beland het. Sy antwoord was kort en bondig: “Dis oor my mond dat ek hier lê.”

Ek het dit al voorheen genoem en sal dit weer noem dat politiek in ons mooi land nou maar eenmaal nie vervelig is nie. Dit was destyds gedurende die

Apartheidsjare die geval en is vandag meer as ooit tevore steeds die geval. So af en toe maak ek seker dat ek deeglik op hoogte gebring word van die politieke stand van sake in ons land. Dis vir my belangrik, want onthou – ek het mos met ons laaste nasionale verkiesing my kruisie agter ‘n politieke party van my keuse getrek. Ek wil daardie politieke party aanspreeklik kan hou vir die politieke mandaat wat ek hom help kry het om die sosiaal-ekonomiese landskap vir ons as landsburgers te verbeter.

Pleinweg – ek wil weet of daai party sy sout werd is.

Dit is dus vir my aangenaam om te sien hoe moderne tegnologie dit deesdae vir ons moontlik maak om ooggetuies te wees van die moeilike vrae wat gevra word om te verseker dat ons as belastingbetalers se geld reg bestee word en nie op nog ‘n onsinnige en vrugtelose reis na elders in die wêreld verkwis word nie.

Die meeste van ons het oorgenoeg gehad van die verwoesting en sinnelose verkwisting en brutale verkragting van ons staatskas oor die afgelope klomp jare. Ons regering van nasionale eenheid (of jy met die term saamstem of nie) het sy verskyning gemaak. En hier begin die vuurwerke in alle erns. Daar is meer stemme (letterlik) wat gehoor word as net die boeliestem van een party wat die septer swaai. Daar is meer jong stemme wat die politieke arena betree het om ‘n gesonde balans en alternatief te verleen vir die deurwinterde politikus wat verseg om die aftog te blaas.

Ek wil glo dat nuwe jong stemme binne die nuwe politieke tydvak waarin ons onsself bevind, uiters nodig is. Ons het egter ook die wyse stemme van hulle wat al die politieke ervaring oor die jare heen opgebou het. Een van hierdie nuwe stemme is ‘n jong lat wat almal se tone laat krul van lekkerkry as hy daai vrae begin vra aan hulle aan wie die mandaat gegee is om op ‘n verantwoordelike wyse met jou en my belastinggeld om te gaan. Hy draai nie doekies om nie. Jy kom agter dat hy sy huiswerk deeglik gedoen het. Hy is onverskrokke met sy vraagstelling. ‘n Mens wil amper begin vra – nou maar waar kom hy vandaan? Hy het die stem van ons almal kom word. Die vrae waaroor ons maar altyd gewonder het en eerder zip gekap het… dis dáái vrae wat hy vra.

Hy het nou die dag een van ons bekende leiers in die sportwêreld onder skoot gehad. Sy vrae was weer eens vlymskerp – dalk té skerp, want iewers het ‘n vinger (letterlik) na een van ons senior figure in die samelewing gewys. Dit het as uiters disrespekvol oorgekom. Iewers sal versoening moet plaasvind.

Die hele gedoente het my egter verder aan die dink gesit. Het ons jonger geslag nie al so gatvol geword vir die swak wyse waarop ons ouer garde die sake van ons land bestuur het nie? Het ons jongmense nie al so keelvol van al die korrupsie, magshonger en vergrype geword dat hulle minder of selfs geen respek vir ons deurwinterde politieke leiers met niks om te wys vir ons jongmense wat gebuk gaan onder werkloosheid, oor het nie? Dink ek by myself – het die jeug dan nie hul vertroue in hierdie leiers gestel om dinge vir hulle beter te maak nie? Vir meer as dertig jaar wag die jeug dat hulle ook baat sal vind by die ekonomiese groei in ons land, maar niks het juis verander nie. Die graad of diploma kan nie die jongmens help om kos op die tafel te sit nie.

Is die vingerwys van ons jong lat in die politieke arena nie dalk die uitroep vir ‘n veel dieper gesprek wat op nasionale vlak moet plaasvind nie? Is die vingerwys van dié jong lat nie die noodkreet om te vra wanneer ons grootmense (senior politieke leiers) gaan ophou om met die kosbare lewens van ons landsburgers te dobbel nie? Ons regering van nasionale eenheid is ‘n nuwigheid vir ons almal. Hier gaan gewis baie lesse geleer word. Mag die vingerwys-episode een van daardie lesse wees, maar meer nog… mag totaal en al wegbeweeg word van ‘n jong-latte-moet-gesien-maar-nie-gehoor-word-nie-benadering.

Intussen hoop ek ons regering van nasionale eenheid staan sterk genoeg vir ‘n volle termyn en sak nie inmekaar soos dit elders in die wêreld die geval was nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article