Natalie van Boven, die eienaar van Steel Link West Coast.


Hoewel Natalie van Boven deesdae ’n vrou van staal is, meen sy om ’n entrepreneur te wees, bly ’n uitdaging en laat jou harde klippe kou.

Steel Link West Coast in Vredenburg se Marais-nywerheidspark is nou Van Boven (39) se passie, hoewel sy ’n paar jaar terug nie veel van die staalbedryf geweet het nie. “Ek het voorheen in die gasvryheidsbedryf gewerk. Ek het in Julie 2018 by die onderneming begin, maar niks van staal geweet nie. Danksy ’n goeie bestuurder, Trevor Myburg, het ek elke dag meer geleer,” vertel sy.

’n Paar jaar later was daar egter slegte nuus vir Van Boven en haar kollegas – afleggings. Haar man, Thomas, het verlede jaar met ’n blink plan vorendag gekom – hoekom begin sy nie haar eie onderneming nie?

“Dit is my eerste onderneming. Ek leer elke dag iets nuuts, maar ek het besef enigiets wat ’n man kan doen, kan vroue ook doen. Jy moet aanhou leer.”

Agt maande later en Van Boven het twee werkers in haar diens. Sy is veral trots dat haar onderneming werk vir ander skep, aangesien sy self weet hoe belangrik dit is om met ’n goeie bestuurder te werk. “Ons is ’n familie hier. Wanneer my man ’n tydjie af het, sal hy selfs inkom om te help. Soms wil ek tou opgooi, maar ek hou aan om die werk aan te pak.

“Ek weet ek maak saam met die span ’n sukses van die onderneming, want ons het respek vir mekaar. Ons het geen geheime nie en ek weet hulle is staatmakers.”

Van Boven sê ’n deel van die uitdaging en genot om entrepreneur te wees is om jouself te verras met dit waartoe jy in staat is. Sy sê dikwels soek voornemende klante iets spesiaals wat nie elders in die Weskus beskikbaar is nie, en dit is dan haar uitdaging om dit moontlik te maak. “Stuur aan die versoek en ek kyk wat ek kan doen,” is die antwoord. “Enigiets is moontlik en as ek dit nie kan doen nie, doen ek moeite om uit te vind hoe en waar dit gedoen kan word. Dit is belangrik om uit jou pad te gaan vir klante,” sê sy.

Maar wat motiveer haar wanneer dit regtig moeilik gaan? “Ek gaan op my knieë en vra vir krag en leiding en elke keer het Hy nog geantwoord. Sommige dae is dit so stil ek raak bekommerd oor wat ons gaan doen, en dan dieselfde dag vra iemand ’n kwotasie aan. God is die middelpunt van wat ek doen,” verduidelik Van Boven.

Sy sê dit is ook belangrik om hulp te kry indien dit nodig is. Sy sê veral die span van Snyer Business Consulting het al ’n pad saam met haar gestap.

Haar plan is nou om haar onderneming te laat groei en selfs meer staal en staalprodukte aan die Weskus te voorsien. Van Boven sê sy streef daarna om uiteindelik nog baie werkers in diens te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article