Skreiende skande! Dit is maar een van die maniere om die absolute chaos by Eskom die week te beskryf.
Die onbeholpe staatsinstansie dwing nou die ganse land tot stilstand. En wat die situasie nog vererger, is dat die staat dit toelaat.
Algehele wanorde, die wegkalwing van kundigheid, en korrupsie is maar van die daaglikse gebeurtenisse in die geledere van Eskom.
Maar wat verder kwel, is die wyse waarop die staat hierdie absolute krisis hanteer.
Byna twee en ’n half jaar gelede, toe die wêreld begin nies het, was die Uniegebou se heerskappy baie vinnig om beheer te vat en die land te sluit. Dit als in die naam van: “vir die welsyn van die volk”!
Maar die land is op pad na verdere ellende met Eskom se ineenstorting. En steeds lig die regering nie ’n vinger om werk te maak hiervan nie.
Sakeondernemings gaan reeds gebuk onder die geweldige alledaagse kostes en dan ook die absurd hoë pryse van brandstof.
En weens die onvermoë van die regering om ’n voldoende kragnetwerk te kan bestuur, gaan besighede net verder tot op hul knieë gedwing word.
As daar nie baie vinnig ingetree word en met langtermynoplossings vorendag gekom word nie, dan gaan hierdie tot ’n baie groter pandemie lei as Covid!

