Maak jou spreekwoordelike sitplekgordel vas, want dis weer daai tyd van die jaar. Dis weer hoes-en-proes-tyd net waar jy kyk. Ja-nee, die winter is op ons en saam met hom bring hy oudergewoonte sy dosis verkoue en griep. Ek is een van daai mense wat klokslag met die draai van ‘n seisoen my volledige porsie verkoue inkry. Verder geniet ek ‘n goeie gesondheid . . . dis nou as jy ‘n klompie pillegoed aftrek wat baie van ons hier ná veertig moet begin gebruik om die hart sy normale pas te laat klop.

Ek weet nie van jou nie, maar dit voel vir my asof die verkoue en griep, wat ‘n mens deesdae kry, veel erger as voor die Covid-19-pandemie is. Dis asof ons deesdae seisoen vier van die pandemie beleef. Vra my maar, want ek het hom so ‘n paar weke gelede aan my eie bas gevoel. Die jongste weergawes van verkoue of griep het letterlik ‘n wil van hul eie en hulle speel glad nie met jou nie. As jy eers daai krapperigheid in jou keel begin voel, kan jy maar die sterk salf en die suigpille nader trek.

Maar o wee, dis nie waar dit eindig nie . . . as jy daai eerste kuggie gee, kan jy maar regmaak vir ‘n hoofpyn wat soos ‘n Pinksterkerk se tromme klop. Ai, en nou weet julle mos hoe ons Adamsgeslag

enige siekte hanteer. Jy soek net daai ekstra bietjies aandag en liefde van iemand wat jou borsie en agter jou blaaie kan insmeer; iemand wat die hoesstropies klokslag kan aangee en seker maak dat jy jou soppies betyds kry. En moenie dat sy vergeet om so af en toe seker te maak dat jy genoeg komberse het en jou voete nie koud kry nie. Ons is seker nou maar eenmaal suckers vir daai liefdevolle

versorging van jou vroulief, ma, suster of enigiemand wat jou darem so ‘n bietjie jammer sal kry – want jou siekwees is erger as almal se siekwees rondom jou.

Gepraat van verkoue of griep ná die Covid-pandemie – dit is vir my baie vreemd hoe ek dit tot nou ervaar het. Dit was bloot net ‘n droë kopverkoue wat nie eens met jou normale hoesbuie gepaard gegaan het nie. Ek het eintlik begin wonder wat dan van my snotterigheid en ander ellendes geword het. Dit was alles net eensklaps weg. Ek het in ‘n stadium erg begin twyfel of die Covid-inspuiting wat ek destyds geneem het, die regte ding was om te doen. En voor jy kon sê conspiracy theory, sak die jongste verkoue op my toe. En wraggies, daar is my hoesbuie terug en my neus begin loop soos ‘n kleuter s’n op ‘n koue wintersoggend. Daai hoesbuie wat ek hierdie keer ervaar het, is egter op ‘n heel ander vlak – dis asof jy jou longe kan uithoes.

My mater, daai verkoue vat my dat ek soos ‘n resiesperd ná ‘n wedren uithangtong loop platlê van siekwees. Dis daai siekwees waar jy stilweg moet somme

tjies maak of jou saak met jou heiland nog in orde is en of die dierbares daai gunste-

ling-weer-ontmoet-koortjie kan sing. Die jongste weergawe van die verkoue of griep het ‘n geneigdheid om jou vir ‘n paar dae swak te laat voel. Moenie eens waag om hier teen dag twee van jou siekwees sterkgesig te wil wees nie. Hoes-en-proes-goete gaan jou gou wys wie baas is. Jy sal goed bewapen moet wees teen die jongste hoes-en-proes-gedaante. Hou maar konstant daai sterk salf byderhand en smeer daai keel, bors en lyf goed in. Drink daai verkouekonkoksie en as dit nie help nie, dan moet jy maar vir Oom Dokter loop sien. Ek het darem my geveg teen die ou verkouemonster gewen sonder om ‘n draai by Oom Dokter te loop maak.

Vir jou wat die jongste verkoue- en griep-golf tot nou misgeloop het, ek wil vertrou dat dit jou gespaar sal word, want dis wraggies nie ‘n lekker storie nie. As jy ná die lees van dese dalk ‘n bietjie bekommerd raak met die winter wat sy kop nog net effens gelig het, stel ek voor jy maak haas om jou griepinspuiting te kry. Intussen hou ek maar aan om my brouseltjies suurlemoentee, gemeng met heuning en gemmer, getrou te sluk, want vir my gaan ek nie weer laat moegperd ry deur ‘n verkoue nie!

Daai spanne wat so oopketel die wintersonnetjie van die oggend tot laat namiddag opsoek vir die dag se skinder- nuus . . . wees versigtig. Jou pienk nagjapon en groen slippers gaan skielik begin sweet en voordat jy nog daai laaste stukkie skinder gaan inkry, sal jy moet haas maak vir die kooi, want hoes en proes gaan jou voorland wees.

O koud is die windjie

en skraal.

En blink in die dof-lig

en kaal,

So wyd as die Heer se genade,

lê die velde in sterlig en skade.

– Eugene N. Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article