Inus du Plessis en Piet Carinus van die span Coastal Hire Racing vlieg behoorlik in die lug met hul BMW E36 in die tweede ronde van die Swartland-tydren. Foto’s: Charlotte Lesch


Die Swartland was die afgelope naweek die gasheer vir die eerste twee rondes van die 2024- Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap, met spanne uit Gauteng, die Oos-Kaap en ander provinsies wat Vrydag (12 April) aan Ronde 1 en Saterdag (13 April) aan Ronde 2 deelgeneem het.

Die renne, wat as twee afsonderlike rondes beslis is, het op elke dag in Malmesbury begin en Vrydag op die Killarney-renbaan buite Kaapstad en Saterdag aan die buitewyke van Malmesbury klaargemaak.

Buiten die laaste deel van Vrydag op die Killarney-renbaan was die sneltrajekte op grondpaaie, brandpaaie op plase en ander plaaslike roetes op private grond.

Die Gautengse jaers Chris Coertze en sy navigator, Carolyn Swan (Mazda2), het al twee rondes algeheel gewen, met die plaaslike WP-jaer Llewellyn Jones en sy navigator, Chris Pichon, Vrydag se naaswenners in hul Subaru. Die Toyota Gazoo Racing-jaer Mandla Mdakane en sy navigator, Kes Naidoo (Toyota Starlet) was derde in Vrydag se eerste ronde.

Mdakane se motor het Saterdag in die heel laaste sneltrajek van Ronde 2 by ’n toeskouerpunt agtergebly toe die voorvering gebreek het.

Saterdag se naaswenners agter Coertze en Swan was Owen Jones en Aden Bredekamp (Subaru) wat ook die WP-streekskampioenskap gewen het.

Shaun Jones en sy navigator, Jason Thorpe, was Saterdag derde.

Llewellyn Jones van Durbanville was die naweek baie ongelukkig – Vrydag het ’n turbopyp losgekom en Saterdag het hy twee vellings gebreek nadat hy ’n klip getref het wat ’n motor voor hom in die pad laat beland het.

“Llewellyn kon al twee rondes gewen het – selfs die wenners, Coertze en Swan – as dit nie vir sy tegniese probleme was nie. Hy is loshande die ster van die WP en die beste van die drie Jones-manne in hul Subaru’s,” het die plaaslike tydrenkenner, Patrick Vermaak, gesê.

Wat meer plaaslike jaers betref, was Kobus Edas en Carl Peskin (Klas 3-wenner) van Malmesbury Saterdag vierde onder die WP-jaers en sewende algeheel nadat hulle Vrydag negende algeheel was.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article