Die lewe kan in ‘n oogwink verander. Ons hoor dit tog so dikwels, maar selde sink die woorde by ons in. Dit is totdat iets bo enigiemand se grootste verwagtinge weer die grond onder jou voete kom uitruk wat jy regtig besef hoe broos en kwesbaar die lewe eintlik is.
Dit was die geval toe ‘n absolute tragedie hom die naweek ten aanskoue van duisende toeskouers by die gewilde Weskus-lugskou by die Saldanha-vliegveld afgespeel het. ‘n Dag wat veronderstel was om die vaardigheid en kundigheid van gesoute vlieëniers ten toon te stel terwyl hulle oudergewoonte hul lugtoertjies voor opgewonde toeskouers uitoefen, het op ‘n uiters hartseer noot geëindig toe die ervare vlieënier James O’Connel in ‘n Impala MK-vegvliegtuig verongeluk het toe dié vliegtuig tydens ‘n demonstrasie neergestort het.
So tragies soos wat hierdie voorval was, het dit opnuut weer die lig geskyn op hoe kosbaar ons tyd saam met geliefdes is. Elkeen van ons staan in die oggend op met ‘n idee van hoe die dag moet verloop. Ons maak ver vooruit planne en laat dikwels toe dat die dag met ons weghardloop omdat ons so maklik toelaat dat klein dingetjies ons dag ontsenu of ons van koers af bring. Tyd is die een ding waarvan ons nooit genoeg sal hê nie, maar wat ons tog so maklik mors.
Benut dus elke oomblik wat jy het.




