Die lewe wil gelewe word. Die lewe is nie vir sissies nie. As die yskoue windjie van die lewe geniepsig teen jou waai, dan maak jy jou jas net stywer vas. Dís van die gesegdes wat ek oor die jare aan eie bas op die harde manier geleer het. Ag jou baie gelukkig as jou pad deur hierdie lewe net met rose en mooigoed besaai word, want daar is baie van ons wat dit net vir een dag met jou wil deel.

Ek kan saampraat en saamvoel met daai persoon vir wie die lewe se duwweltjies soms baie eina steek. Veral die afgelope twee jaar plus was opnuut ’n bewys daarvan dat ons by tye net dankbaar moet wees as ons nog die een voet voor die ander kan sit; dat daar nog iets in die koskas is om die volgende maaltyd te dek; dat daar dalk van iewers af ’n paar rand sal inkom om deur die volgende maand te kom. Ek was al daar. Ek is nou nog daar.

Nie so lank gelede nie kon ek met empatie luister na ’n goeie vriend wat die besluit moes neem of hy die dekodeerder gekoppel hou en of hy dit eerder opsy sal skuif sodat die monde in sy gesin gevoed kan bly. Die besluit was eenvoudig. Laasgenoemde het die stryd gewen. Ek kon hom in antwoord hierop vertel van my behoefte om so graag weer my motor se skoentjies te vervang. Ek stel dit al vir ’n geruime tyd uit, want daar is ander kostes wat groter prioriteit geniet. Een daarvan is dat ek vir die dak oor my kop moet betaal en moet sorg dat daar iets in my koskas is. Ek sal dit maar nog ’n keer moet uitstel, want die petrolprys is in elk geval deesdae so genadeloos dat ek letterlik net daai broodnodige trippies winkel toe en terug aanpak. As die petrolprys maar al was, maar o wee, het jy al die motoroliepryse daarmee saam gesien? So, ek word al hoe gemakliker om korter afstande te voet aan te durf. En ek het geleer – dis die meeste van die tyd goed vir die liggaam, siel en sommer die beursie ook!

Die reis waarop ek myself bevind, vra daagliks dat jy diep moet delf om jou kreatiewe self te laat seëvier. Die kontrakkie waarop jy jou hoop geplaas het, kom nie deur nie. Ek was daar. Dan is dit weer stof afvee en weer probeer. Die wolk van twyfel en moed opgee het al meer as een keer by my kom klop – daai kere as jy omstandighede die skuld wil gee en alles gelate wil aanvaar, en as jy nog ’n keer kyk na die planne wat jy so netjies vir jouself aan die begin van die nuwe jaar uiteengesit het, en jy besef dat alles nie so mooi in plek val soos jy dit vir jouself voorgestel het nie. As jy die yskasdeur oopmaak, sien jy die laaste van alles en jy wonder waar die geld vir die volgende brood of sakkie melk vandaan sal kom. Ek ken daai een.

Genadiglik het ek oor die afgelope tyd geleer dat dit juis op jou laagste van oomblikke is dat die wonderwerke begin gebeur; dat daai paar rand vir die brood en melk op die regte tyd deurkom. Dis in daai donker oomblikke dat jy ook besef wie werklik daar is vir jou om weer jou geloof in self en die mensdom te herstel. Wanneer die vertwyfeling van vroeër soos mis voor die son verskyn en jy weer kans sien vir jou reis, want dit is lankal nie verby nie. Dis ook hierdie einste tye wat my kom leer het dat dit soveel beter en bevrydend is om weg te kyk van die self, want die wegkyk laat jou besef die nood van ander is soveel groter as jou eie – soveel so dat jy eintlik skaam word oor jou eie weeklaaglied. Waar ek ten minste nog die laaste van alles in my yskas sien, het ander glad niks.

Die mooi en verwondering wat ek in my wegkyk ontdek, is dat daar nog steeds soveel vreugde te bespeur is by hulle wat minder of glad niks het nie. Hulle het nie onnodige stres daaroor nie, want in die min hê, leer ons om met ander te deel – daar is ’n samehorigheid; die besef dat jy nie alleen in die stryd is nie.

Nog mooier is die strewe om bo jou omstandighede uit te styg. Dit kon ek sien en beleef. Dit het my geïnspireer om steeds te bly glo aan my drome en my weer met nuwe oë laat kyk na my lysie planne wat ek vir myself opgestel het. Daardie planne, gedoop in geloof, sal tot uitvoering kom.

My paar snye brood, die koffie wat al weer op is en my kar se skoentjies wat vervang moet word, sal my nie onderkry nie. Dit was ’n ysige winter. Nie eens dít het my van stryk gebring nie, want ek het geleer om my jas net stywer vas te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article