Die afgelope paar weke en maande was darem maar nie van die lekkerste tye in ons mooie moederland nie.
Kom ons probeer maar ook vergeet van die vorige jaar of drie wat hierdie einste tydperk voorafgegaan het. Ja, ek verwys na die nare ou krag-storie. My kleindorpiebeurtkragtoepassing voel al deesdae soos ’n tweelingboetie – onmisbaar deel van my. My skouers trek al klaar weer op ’n hopie as ek net dink aan die volgende donker kol waarvoor ek moet begroot vir my volgende aanlyn klas met my groep studente. Ek meen, dis my brood en botter waarvan ek praat.
In my geestesoog sien ek al klaar hoe ek weer na die naaste restaurant of enige plek wat daai donker kol in lig kan verander, moet jaag. En soos soveel vorige kere sal ek weer diep in my gatsak moet krap op soek na daai paar ekstra rande om ten minste net daai besigheid met die kragopwekker te ondersteun met die koop van ’n brêkkie. Die ergste is dat ek al deesdae soos iemand voel wat konstant by ’n Katolieke bieghokkie moet uitkom om vergifnis te vra vir die stringe kragwoorde wat al weer vryelik my mond verlaat het.
Dis asof ’n mens deesdae al meer die vraag wil vra hoe ons hier geëindig het? Die meeste van die antwoorde is natuurlik voor die hand liggend, maar wraggies, ’n mens sukkel maar erg om die omvang daarvan te begryp en te aanvaar. Die vrae word deesdae ook al meer of ons ooit in die nabye toekoms die lig aan die einde van hierdie donker tonnel gaan sien.
Ek kan deesdae makliker verstaan as ek daai rooi gekleurde boodskappe van mense raaklees wat sê “oppak en landuit” is die enigste uitweg. Wie het dan nog lus om verder in die donker voort te ploeter as jy iewers in ’n eerstewêreldse land die vreugde van lig en lewe kan ervaar – daar waar alles so gerieflik en maklik verkrygbaar is; waar jy letterlik tot wie weet watter tyd in die vroeë oggendure in die systrate kan ronddwaal sonder om elke derde sekonde oor jou skouer te loer of iemand jou nie dalk agtervolg nie.
Ek kan my indink hoe maklik die besluit vir so iemand of sulke mense op Afrika-bodem kan wees as jou moermeter die soveelste keer die hoogte in geskiet het en jy blootweg net genoeg gehad het van alles.
Dis hier waar ek halt roep, want ek was al daar – die rustelose reisiger wat dit al eens oorweeg het om ’n land ver van my eie my tuiste te gaan maak.
Dit was my derde jaar in die ander land wat my tot die insig en besef laat kom het dat die weiveld aan die ander kant regtigwaar nie altyd groener is nie, dat in baie gevalle daai vlug na die vreemde eintlik ook ’n vlug weg van die self kan wees.
Die gemis na huis het ondraaglik begin raak en die tromme uit Afrika het al harder in my siel begin slaan.
My kop, hart en siel het die mooi, die eenvoud, maar ook die ongenaakbaarheid van ons Afrika-landskap gemis. Ek wou nie meer die gemak van die eerste wêreld ervaar nie. Ek was uitgekuier. Die lewe in die vreemde vertes het net te eentonig en voorspelbaar begin word. My gewete wou nie meer saamspeel nie, want hier sit ek in die land van skynbare melk en heuning terwyl my hande jeuk om saam met my mede-landgenote die uitdagings wat op eie bodem roep, vir oplossings aan te pak. Die bloed in my are het gebruis om die kind, jongmens en mens in nood by te staan. My kairos-oomblik het juis gekom daai dag toe ek in die verte besef dat my land met al haar uitdagings die plek is waar ek moet aanmeld vir diens – nêrens anders nie.
My aanmeld vir diens is gedoop in my liefde vir ons mooi land en al haar mense. En as ons die donker tye van ’n kragvoorsiener moet deurstaan, dan doen ons dit saam. As ons nog ’n keer onder peperduur kos en petrolpryse moet steier, dan doen ons dit saam. En as ons nog ’n keer ’n klaaglied moet sing oor die onbeholpenheid van die wat veronderstel is om die land te lei, dan sing ons dit saam, want ons is Suid-Afrika. En as die hitte in die kombuis te warm word vir jou, dan het jy natuurlik die keuse om iewers elders te gaan afkoel. Ek meen jy behoort teen dié tyd in elk geval te weet dat Afrika nie vir sissies is nie – jy moet kan uithou, aanhou en kophou.
Oor een ding kan ons almal hier aan die tuisfront saamstem – daar is nie een vervelige oomblik met al die drama wat ons tans beleef nie.
Ek kan nie wag vir daai dag as ons as nasie eendragtig saamstaan en die euwels van ons tyd aan die nek gryp nie. Ek lek my lippe af vir volgende jaar . . .
Nkosi Sikelel’ iAfrika!





