Ons is enkele dae weg van die tweede maand van die nuwe jaar, met talle wat reeds hunker na die luilekker vakansie van net ’n paar weke gelede. Die jaar het behoorlik teen ’n stinkspoed weggespring en oudergewoonte reeds ’n klompie hoogte- en laagtepunte én baie nuus opgelewer.
Vir enkele Weskussers is die begin van 2024 gekenmerk deur die waarmaking van hul drome. Een so ’n Weskusser is Nobuntu Makeleni van Vredenburg wie se jare lange droom om ’n tweede voertuig vir haar vervoerdiensonderneming aan te skaf moontlik gemaak is danksy ’n ruim skenking (bl. 20).
Met die bekendmaking van die matriekuitslae Vrydag is Porterville se Carli Perold se droom om medies by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer verwesenlik toe haar finale toelating hiervoor die oggend bevestig is. Dit nadat haar gesondheid op die ouderdom van sewe jaar meteens ’n wending geneem het en ’n gewas in haar milt ontdek is (bl. 16). Lees gerus terselfdertyd ook oor die doelgerigte Amber Louw van Langebaan wat ten spyte van disleksie, wat as kind by haar gediagnoseer is, deurgedruk en by ses universiteite aanvaar is vir ’n B Ed-graad in onderwys (bl. 16).
Mag die suksesverhale so vroeg in die nuwe jaar ons almal aanspoor om te volhard in dit waarnatoe ons werk, terwyl ons mekaar aanmoedig en ondersteun. Lekker lees!




