Skrootdiefstal kos die staat, munisipaliteite, sakeondernemings en Jan Alleman elke jaar etlike miljarde.

En tans, in ’n tyd waar die ekonomie gebuk gaan onder die afgelope twee jaar se ekonomiese insinking weens die Covid-19-pandemie, is hierdie diefstal nog erger. Dit is duidelik dat groot sindikate hier aan die werk is. En, weens die prys van metale wat vinnig styg, is dit baie winsgewend.

Skroothandelaars koop gesteelde koper, smelt dit in blokke en korrels, wat nie skroot-uitvoerpermitte vereis nie, en verkoop dit aan handelaars wat die gesogte skroot uitvoer, veral na Asiatiese lande. Dit kan dan op byna geen manier geïdentifiseer word waar dié “afval” vandaan kom nie.

In die Weskus vier hierdie praktyk ook hoogty – veral tydens beurtkrag wanneer kragbokse se koperkragkabels gestroop word. Weslander het net verlede week berig oor die groot uitdaging en frustrasie wat die Saldanhabaai-munisipaliteit ervaar wanneer toerusting beskadig word en verbruikers ná beurtkragonderbrekings selfs langer sonder krag sit omdat dié toerusting eers herstel moet word. Boonop word die skuldiges bitter selde vasgetrek. In die geringe kans dat dit wel gebeur, beland hierdie misdadigers min agter tralies, om nie eens te praat van die groot skuldige – die koper van gesteelde goedere – wat ’n mark hiervoor skep nie.

’n Taakmag moet op die been gebring word om hierdie diefstal die hoof te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article