Danksy die hulp van die Diazville-gemeenskap het rugbyspelers van die plaaslike hoërskool onlangs op ’n opwindende rugbytoer na Jeffreysbaai gereis.
Die seuns en hul ondersteuningspan het Donderdag 30 Maart vertrek. Die vorige dag is die talle ondersteuners en borge wat die span se deelname aan die Grow Rugby-toernooi van 30 Maart tot 1 April moontlik gemaak het, besoek.
“Die wêreld is groter as net Middelpos, Diazville of Saldanha. Ons is dankbaar julle kry hierdie geleentheid. Julle is ambassadeurs vir jul ouerhuis, die skool en die gemeenskap. Ons is trots op julle en weet hoeveel harde werk dit vereis om by die span ingesluit te word,” het die skoolhoof, Paul Haricombe, gesê.
Met behulp van borge van wyd en syd kon die groep van 30 vir dié “geskiedkundige geleentheid” na die Oos-Kaap reis. Volgens die onderwyser Andrew Blake was dit veral verblydend om te sien hoe oud-leerders in hul alma mater teruggeploeg het.
Nuwe oefenklere, uniforms en rugsakke was net van die toerusting wat met onder meer die hulp van Assmang, Sea Harvest, West Coast Community Trust (Mykonos), Pro Paints, Ocks Engineering, DJ & Sons Trading, Pick n Pay, Frank’s Hardware, Holy Soul Crusade, Da Salva Projects, Da Salva Beauty, AR Jones Engineering en Kevin Papier geskenk is.
Die Saldanha-rugbyklub is ook bedank vir hul ondersteuning en die beskikbaarstelling van die plaaslike velde ter voorbereiding van die toer. Spelers van die klub was ook byderhand om die jonger spelers sterkte toe te wens.
Die spelers se reis is moontlik gemaak deur Cederberg Primêr, wat hul bussies vir die reis beskikbaar gestel het.
Pastoor Hilton de Bruyn het die seuns met ’n boodskap gemotiveer en gesê om hul talente ten volle te gebruik is “tot verheerliking tot die Skepper”. Hy meen die groep spelers maak geskiedenis en dien as rolmodelle vir ander.
Die stut Keanon Carolus, wat die span by Weskus Skool leen, het Woensdag gesê hy was opgewonde oor die toer – veral ná maande se voorbereiding en oefensessies. Die bobaas-haker JP Alexander was senuweeagtig, hoewel hy verlede jaar die Boland by die Iqhawe- nasionale toernooi verteenwoordig het.
“Ek sien die meeste uit om saam met die span te speel, tyd saam met die spelers deur te bring en die rugby saam met hulle te geniet,” het JP gesê.
En wat die uitslae van die toernooi betref, blyk dit die spelers het die geleentheid geniet – veral hul 34-14-oorwinning teen De Aar in die eindstryd. Die Weskussers se eerste wedstryd was teen Andrew Rabie, met dié span wat teen die Diazvillers vasgeval het.
Op die twee dag het hulle die Hoërskool Kirkwood (Oos-Kaap) aangedurf, maar moes die aftog blaas. Die toer het egter op ’n hoë noot geëindig met hul 20-punt-oorwinning.
Die volle wedstryde is aanlyn te sien. Besoek die Hoërskool Diazville-Facebook-blad vir die skakels.





