Die Diaz Leeds-sokkerklub het Saterdag (15 Februarie) teen die gesoute Houtbaai United-sokkerklub, wat tans die tweede plek op die ABC Motsepe-liga se punteleer beklee, kragte gemeet.
Diaz Leeds het ’n kombinasie van jong talentvolle en ervare spelers op die veld gestuur.
Houtbaai United het baie goed begin en hul vinnige linkervleuel het in die derde minuut deurgebars met ’n venynige dribbel-lopie en Diaz Leeds se verdedigers met ’n pragdoel aan die slaap betrap.
Diaz Leeds was dus reeds vroeg in die wedstryd onder geweldige druk en die sterk winderige toestande het dit baie moeilik gemaak vir die spelers om die bal te beheer en vloeiende sokker te speel. Die Diaz Leeds-spelers het egter goed herstel en die druk van die vinnige Houtbaai United-spelers baie goed hanteer.
Hoewel Houtbaai United nog twee strafdoele en twee doele aangeteken het, het die briljante en talentvolle speler TJ Diedericks van Diaz Leeds met ’n goeie dribbel-lopie hul eerste doel aangeteken. Diaz Leeds se knap doelwagter, Deiniol Cloete, wat daarvoor bekend is om doelskoppe te keer, het dit byna reggekry om een doelskop af te weer.
Die eindtelling was 5-1 in Houtbaai United se guns. Diaz Leeds se klubbestuur sê daar is reeds groot verbetering te bespeur met die span se jongste vertoning en die foute wat gemaak is, sal aandag geniet.
As al die foute uit die weg geruim word, wag ’n blink toekoms op die talle jong talentvolle spelers, onder wie Craig Swarts (Thoba), Shane Vraagom, Luciano Adams, Lonwabo Mkeli, Aganang Ramokgadi, Deiniol Cloete, TJ Diedericks en Jo-Hayden Dirks.




