Vir jare was sy die eerste gesig wat besoekers gesien het as hulle by die deure van Diazville Primêr instap.
Maar nou gaan besoekers dié vriendelike ontvangsdame, Rosy Manuel, se groet mis.
Manuel is Woensdag 20 November oorlede.
Volgens haar voormalige kollegas was Manuel ’n sekretaresse “in die ware sin van die woord”.
“Sy kon goed onder druk werk, selfs in die latere jare toe die skool se getalle gegroei het. Sy was by uitstek ’n perfeksionis en het haar skoolverpligtinge eerste gestel.
“Sy was pligsgetrou en baie stiptelik. Sy was ’n aangename en opregte mens en ook ’n baie goeie gasvrou,” meen haar voor-
malige kollegas.
Manuel het onder die hoof, Lionel Clarke begin werk en het vir 25 jaar by die skool diens gedoen. Sy het in 1996 uitgetree.
Sy het die afgelope paar jaar by die huis gebly weens haar gesondheid.
Sy laat haar man, Kosie Manuel, en twee kinders agter.





