Lees, gebruik die internet en leer selfs om te kodeer – alles gratis en onder een dak.
Inwoners van Diazville kan nou hul splinternuwe plaaslike biblioteek besoek nadat dié fasiliteit Maandag heropen is. Die biblioteek was deel van die plaaslike munisipale infrastruktuur wat in die slag gebly het toe onluste in November 2018 in die buurt uitgebreek het. Nou is die spoggerige biblioteek gereed vir besoekers – oud en jonk.
Shemone Bokhary van Mokala Training and Development was die seremoniemeester en het onder meer die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, verwelkom.
Marais spoor inwoners aan om die biblioteek te gebruik.
“Biblioteke is baie keer ’n veilige hawe vir ons kinders. Dit is ’n plek waar hulle kan lees en leer om hul verbeelding te gebruik. Werkloosheid is ’n groot uitdaging en hier kan jong mense leer hoe om ’n CV op te stel en danksy die gratis internettoegang uit te stuur,” verduidelik sy.
Benewens die internet-toegang en boeke bied die span by die biblioteek ook ’n lees-uur vir die kleinspan aan en die gr. O-leerders van die nabye Diazville Primêr leer hier om te kodeer.
Deur eenvoudige opvoedkundige speletjies leer die leerders vaardighede wat hulle uiteindelik in staat sal stel om rekenaarprogramme te skryf en op te stel. Dit was egter nie net hul kodering wat die besoekers vermaak het nie, maar die leerders het ook poësie vir die geleentheid voorgedra.
Amptenare van die Saldanhabaai-munisipaliteit het die gemeenskap gemaan om goed na hul nuwe biblioteek om te sien en dit behoorlik te benut.
“Toe ek ’n kind was, was ’n biblioteek ’n skaars hulpbron, maar nou is daar een in elkeen van die munisipaliteit se dorpe. Dit is regtig ’n voorreg en gewis ’n aanwins vir elke gemeenskap,” het die raadslid Michael Schaffers, onder wie se portefeulje biblioteke val, gesê.
Enigeen wat belangstel, kan die biblioteek in Goodhopestraat van 10:00 tot 17:00 op Maandae, Woensdae en Vrydae, en 10:30 tot 17:00 op Dinsdae en Donderdae besoek. Die biblioteek is toe as die krag weens beurtkrag af is.. Diazville-biblioteek se kontaknommer is 022 714 8025.





