Die Diaz Leeds-sokkerklub het Saterdag 1 Maart ’n wegwedstryd in die hart van Manenberg teen die Crystal Palace-sokkerklub gespeel.

Crystal Palace is ’n gedugte span en beklee die derde plek op die ABC Motsepe-liga se punteleer. Dit is nie per ongeluk dat hulle daardie posisie beklee nie, want hulle het legendes in die Kaapse sokkerwêreld soos Clayton Daniels in hul verdediging en hul hoofafrigter is Bradley August.

Crystal Palace het vinnige en atletiese spelers wat baie goed balbeheer toepas en hulle het ’n unieke speelstyl. Hulle is ook baie goed georganiseerd, met alle strukture in plek.

Diaz Leeds se spelers het egter ’n opskudding veroorsaak deur in die eerste minuut van die wedstryd hul eerste doel aan te teken. Pragtige same-spel is begin deur hul rotsvaste verdediger, Aphelele Nongca (Towa), met ’n aangee na Marciano Ockhuis en toe na Craig Swarts wat soos blits op die linkervleuel af genael het, met ’n absoluut prag-aangee op die voet van Cameron May, wat geen fout voor die doelpale gemaak het nie.

Die sokkergeesdriftiges (die Crystal Palace-ondersteuners) wat die stadion volgepak het, was in skok gedompel en die Diaz Leeds-spelers het van blydskap gejubel. Die Diaz Leeds-spelers het alle aanvalle van Crystal Palace met mag en mening afgeweer.

Dit is die eerste keer dat Diaz Leeds-spelers as ’n eenheid gespeel het en waar almal 100% gegee het. Hulle was begeesterd en het die hele eerste helfte voorgeloop. Marciano Ockhuis het ’n gedaanteverwisseling ondergaan en in ’n topspeler ontaard.

Hoewel Diaz Leeds sy beste op die veld gegee het, het die wedstryd met 3-2 in die guns van Crystal Palace geëindig.

Die hele span van Diaz Leeds-sokkerklub het uitstekend vertoon en het hulle baie goed van hul taak gekwyt.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article