September is Kinderkankerbewustheidsmaand. Foto:


Internasionale Kinderkankerbewust­heidsmaand word elke jaar in September gevier. Goue linte word gedra om wêreldwyd bewustheid te help verhoog.

Volgens Anina Meiring, nasionale bestuurder van Kansa se ondersteu­ningsprogram “Tough Living with Cancer (TLC)”, word kanker tans jaarliks by tussen 800 en 1 000 Suid-Afrikaanse kinders gediagnoseer. “Daar word egter beraam dat die helfte van die kinders met kanker in Suid-Afrika nooit of laat gediagnoseer word as gevolg van ’n gebrek aan kennis oor die siekte en hoe dit by kinders voorkom,” vertel sy.

Meiring voeg by dat wanneer die kanker reeds in ’n gevorderde stadium is, en dan eers gediagnoseer word, word die moontlikheid van suksesvolle behandeling heelwat laer.

Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal bly die algehele oorlewingsyfers vir kinderkanker in Suid-Afrika laag in vergelyking met internasionale data. Groter bewustheid van die waarskuwingstekens van kinderkanker kan vroeër diagnose aanmoedig en tot verbeterde uitkomste lei.

Kinderjare teenoor kanker
by volwassenes:

Meiring vertel die oorsake van kanker by volwassenes word gewoonlik toegeskryf aan lewenstylkeuses, terwyl by kinders genetiese en omgewingsfaktore ’n dominante rol speel.

“Dit is belangrik om daarop te let dat daar ’n groot verskil is tussen kinderkanker en volwassene kankers. Kinders is binne ’n kort tydperk onderhewig aan groeispore, wat daartoe kan lei dat die kanker vinniger en meer aggressief versprei.”

“Dit impliseer dat behandeling of advies wat vir volwassenes kan werk, nie noodwendig vir kinders sal werk nie.

“Kankers by kinders kom dikwels in die ontwikkelende selle voor soos beenmurg, bloed, niere en senuweestelsel-weefsels.”

Volgens die onlangse Suid-Afrikaanse Kinderkankerstudiegroep (SACCSG) se registerstatistieke vir 2009 tot 2013 is die vyf voorste kinderkankers in Suid-Afrika:

• Leukemie (bloedkanker)

• Limfoom (gewasse wat in die limfkliere begin)

• Breingewasse

• Nefroblastomas of Wilms-gewasse – kanker van die niere

• Sagteweefselsarkome (gewasse wat in die bindweefsel begin)

My kind het kanker: Wat nou?

Kinders kom voor unieke uitdagings en aanpassings te staan wanneer kanker by hulle gediagnoseer word. Vir die ouers is hierdie uitdaging net so groot en weet hulle dikwels nie hoe om te reageer nie. Dit is baie belangrik dat ouers met die kinders ’n gesprek voer oor wat hul kind kan verwag.

Indien jy as ouer onseker voel oor jou kind se diagnose en behandeling en hoe dit hul lewe gaan beïnvloed, praat met die behandelingspan. Sodra jy as ouer die inligting verstaan, kan jy dit ouderdomsgepas en eerlik aan jou kind oordra.

Moedig jou kind aan om vrae te stel en emosies uit te druk. Jy mag maar die woord “kanker” teenoor jou kind gebruik. Kinders voel veilig wanneer hulle weet wat hul siekte genoem word. Indien jy as ouer onseker is oor antwoorde op sekere vrae, moenie bang wees om te sê: “Ek weet nie, maar ek gaan vir ons uitvind.”

Praat met jou kind oor maniere waarop hy / sy ondersteun wil word. Die maatskaplike werker in die behandelingsentrum of hospitaal kan ouers in hierdie gesprekke bystaan.

Bespreek vooraf wat julle vir jou kind se klasmaats en vriende sal sê as hulle vrae oor die siekte het. Respekteer jou kind se wense as hy eerder nie die diagnose met klasmaats wil bespreek nie. Dit is wel belangrik dat jy as ouer met jou kind se onderwysers en skool se maatskaplike werker sal kontak maak. Bespreek unieke behoeftes en uitdagings wat jou kind betref met hulle.

Sluit gerus aan by die Kansa TLC-ondersteuningsgroep op Facebook: “Cansa TLC-Childhood Cancer Support”.

Om by ’n ondersteuningsgroep aan te sluit vir ouers wat ’n kind met kanker het, kan jou help om minder alleen in jou reis te voel.

Kansa beskik oor opgeleide beraders, maatskaplike werkers en TLC-personeel wat ’n ondersteunende rol kan speel vir ouers sowel as kinders.

Skakel gerus die hulplyn by 0800 22 66 22 of stuur ’n WhatsApp na 072 197 9305.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article