’nGeleentheid van ’n leeftyd wink vir die jong atleet Leander Pholman (18).

Pholman, ’n Langebaan-inwoner, is gekies om van Saterdag 14 tot Dinsdag 24 Junie aan die 2025- Nike Outdoor Nationals, wat in Eugene, Oregon, in Amerika sal plaasvind, deel te neem.

Vir Leander is dit ’n droom wat waar word – om in ’n ander land saam met internasionale atlete te hardloop. Leander sê hy fokus op sy oefeninge, goeie maaltye, genoeg slaap en swem ter voorbereiding vir die 200 m- en 400 m-wedlope.

Vir dié jong atleet is atletiek baie belangrik. “Dit is lekker om te hardloop en sodoende ontmoet ek nog ander vinnige atlete en dit gee my nog wilskrag. Ek hou van uitdagings en daag myself dikwels [uit] om nog vinniger te hardloop.”

Sy tannie, Bianca Pholman, ’n sportvrou wat Leander met sy voorbereiding help, beskryf hom as iemand wat op die baan en tuis hard werk.

“Leander hou daarvan om kinders te help en te motiveer. Hy het natuurlike talent. Die meeste atlete moet hard werk om soos hy te hardloop, maar Leander verstom my elke dag met elke geleentheid wat hy aanpak. Ek dink hierdie geleentheid sal hom baie help in die sin van ervaring, en wie weet, dalk sien ’n professionele afrigter hom raak wat hom kan help – nie net in die sport nie, maar ook in die sielkundige weergawe van hoe om ’n atleet te wees,” sê Bianca.

Sy ma, Lee-Andi Mustapha, sê sy is baie trots op wat haar seun tot dusver bereik het.

“Enige ma wil net die beste vir haar kind hê en ek glo hierdie geleentheid is sy deurbraak.”

Leander het nog R85 000 vir die geleentheid nodig, wat onder meer kos, vervoer en verblyf moet dek, waarvan die helfte (R40 000) teen Vrydag 28 Februarie betaal moet wees. Teen Sondag 30 Maart moet nog R20 000 betaal wees; nog R20 000 teen Woensdag 30 April en die laaste R5 000 teen Vrydag 30 Mei.

. Kontak Lee-Andi by 076 740 9463 of Ronel Benjamin by 073 515 8568 om ’n broodnodige bydrae te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article