Die Hoërskole Diazville en Weston het onlangs in hul eerste derby kragte gemeet. Die leerders het hul alles tydens hul onderskeie sportkodes gegee.
Met die aanbreek van Covid-19 het sport tot ’n stilstand gekom, maar aktiwiteite is nou weer aan die gang.
Volgens Ivan Dwashu, die o.19A-hulpafrigter en sportkoördineerder van Hoërskool Diazville, heers ’n hongerte tussen buurskole om teen mekaar te speel.
Die o.19A-hoofafrigter, Winston Albrecht, sê dit was ’n suksesvolle sportdag en ’n opwindende gees het geheers. “Diazville het gewis die geeskompetisie gewen,” voeg hy by.
Hoewel die spelers hul hart uitgespeel het, het Hoërskool Weston se o.19A-rugbyspan as die wenners weggestap met die telling 19-18 teen Diazville.
Gerard Cloete, een van Weston se afrigters, sê dit was ’n goeie wedstryd en die afrigters is baie trots op die jong spelers. “Die seuns het groot karakter en vasberadenheid getoon om hierdie een teen Diazville se goeie span deur te trek. Dit is ’n eer om met die spelers van Hoërskool Weston geassosieer te word,” voeg Cloete by.
Dwashu sê hulle beplan om hierdie gebeurtenis ’n jaarlikse instelling te maak. “Met deeglike beplanning en goedhartige skenkers sal ons dit gewis groter en meer kleurvol maak,” vertel hy.
Dwashu voeg by die skool is opreg dankbaar teenoor die Saldanhabaai-munisipaliteit, die bestuur van die Saldanha-rugbyklub, die skeidsregters, noodhulpmense asook die onderwysers wat betrokke was.




