Bestanddele
250 g sagte margarien
1½ koppies strooisuiker
4 eiers
4 tl bakpoeier
4 eetlepels kakaopoeier
2½ koppies alledaagse meel
1 tl vanieljegeursel
400 g donkersjokolade, gekap
400 ml slagroom
2 eetl botter
Metode
Verhit die oond tot 180 °C. Bedek twee vierkantige panne van 20 cm x 20 cm met bakpapier.
Meng die margarien en suiker met ’n handklitser tot lig en donsig. Voeg die eiers een op ’n slag by en hou aan klits.
Voeg die vanieljegeursel by en meng totdat al die bestanddele goed gemeng is. In ’n aparte bak sif die meel, bakpoeier en kakaopoeier saam en meng goed. Voeg die droë bestanddele by die nat mengsel, meng stadig by tot goed gemeng en klontvry. Gooi die helfte van die beslag in elke koekpan en bak vir 35 minute.
Steek ’n koekpen in die middel en indien dit skoon uitkom, is die koeke gaar. Laat vir 10-15 minute afkoel en haal dan uit die panne.
Maak dan suikerstroop deur ’n halwe koppie suiker en ’n halwe koppie water te verhit totdat die suiker opgelos is. Wanneer dit afgekoel het, gebruik ’n deegkwas om die stroop op albei koeke te smeer. Dit sal die koeke klam hou en die sjokolade-ganache meer doeltreffend aan die koek laat kleef.
Vir die sjokolade-ganache – verhit die room tot net voordat dit begin kook. Haal dan van hitte af en voeg blokkies sjokolade by; hou aan roer totdat die sjokolade smelt. Voeg die botter by en meng goed sodat die ganache blink is. Laat oornag afkoel.
Om aanmekaar te sit: Sny die koeke in die helfte sodat jy vier lae het. Klits die ganache en plaas in ’n spuitsak en versier die koek. Plaas in yskas tot ferm, sit voor en eet!





