Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het sy kabinet verlede week geskommel en – soos beloof tydens die opening van die Wes-Kaapse wetgewer – ’n nuwe departement bekendgestel.

Tydens die opening van die wetgewer, wat vanjaar in Velddrif plaasgevind het, het Winde planne aangekondig om ’n departement van infrastruktuur te skep. Hierdie departement, wat nou deur Tertuis Simmers as minister bestuur word, is ’n samesmelting van die departement van menslike nedersetting en vervoer en openbare werke.

Debbie Schäfer groet op haar beurt die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) vir die Verenigde Koninkryk. David Maynier, minister van finansies en ekonomiese geleenthede, sal by Schäfer oorneem. Finansies sal nou in die hande van Mireille Wenger wees.

Winde het in Februarie tydens sy provinsiale staatsrede verduidelik ’n departement van mobiliteit sal geskep word. Daylin Mitchell sal as minister hier aan die stuur wees.

Reagan Allen word die minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-toesig. Hy vervang die geskorste Albert Fritz.

“Hierdie proses van ‘verfris’ beteken dat sekere veranderinge in die samestelling van ons regering nodig is. Dit is hoekom ek aangekondig het dat ons toegewyde departemente vir infrastruktuur en vir mobiliteit sal skep om enkelvoudige fokus te plaas op beide die uitdagings wat ons in die gesig staar, en van gelyke belang, die groot geleenthede wat ons kan kry om binne hierdie portefeuljes te werk en waardigheid te bevorder,” het Winde oor die skuiwe gesê.

Winde het tydens sy Februarie-toespraak die belangrikheid van werkskepping uitgelig, veral ná die ekonomiese uitdagings wat die Covid-19-pandemie tot gevolg gehad het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article